KYK: Al ses watermeters in straat met net 14 huise gesteel
Daar is geen einde aan watermeterdiefstalle in Middelburg.
Nadat drie watermeters onlangs in Tulipstraat in Kanonkop gesteel is, is daar gisteraand weer drie in dié straat weggedra.
’n Inwoner wat in die straat woon, wat anoniem wil bly, sê dat sy ’n onrustige nag gehad het, en tussen 02:00 en 03:00 vanmore in haar kombuis gestaan het toe sy ’n flitslig in die straat gewaar het.
Sy het ook die donker figuur met die flitslig gesien rondbeweeg, nadat sy weer klanke gehoor het wat haar slaap deurnag versteur het.
Sy is vanoggend ingelig dat nóg drie watermeters in die kort straatjie in Kanonkop gesteel is.
Die oggend van 3 November is daar ook drie watermeters in Tulipstraat gesteel.
Die straat het maar 14 huis in.
Twee van die inwoners het gou ’n boereplan gemaak en houtpenne in die watermeterpype ingekap om die spuitende water te stuit.

Die derde een spuit nog.
Daar is ’n klip gebruik om die watermeters uit te kap.
Regdeur Kanonkop, en ook ander woongebiede in die dorp, word watermeters feitlik daagliks gesteel.
@middelburgobserver Another three water meters were stolen last night in Tulip Street, Kanonkop, where three water meters were also stolen on November 3. The street only has 14 homes. #infrastructuredamage #Middelburg #watermeters
Die munisipaliteit vervang die meters nou met nuwe plastiekmeters wat selde weggedra word.
• As dit nie watermeters is nie, is dit hekmotors.
Daar is ook die week gepoog om twee fietse uit ’n motorhuis in Sneeubergstraat, Aerorand, te steel nadat die motorhuis oopgebreek is Woensdagmore.
Woensdagoggend is daar ook by ’n melkery in Zuidstraat ingebreek.
Volgens die munisipaliteit is watermeterdiefstalle ’n geweldige groot probleem.
