News

Daar blyk verskeie Blakes’ gekoppel aan Blake House te wees…

Jack Hindon, Henri Slegtkamp en De Roos sluit by die groep aan as deel van die Ierse Brigade, met ‘kolonel’” Blake as leier.

In die middedorp van Middelburg het vir baie jare ’n sierlike rooibaksteen dubbelverdieping gebou gestaan, met ’n pragtige balkon om die bo-vloer, bekend as Blake House.

Die Blake House.
Blake House in noordwestelike rigting circa 1905 – let op die metaal sierwerk op die nokke van die dak en die sier-torinkie op die hoek (Foto: Laver-versameling – Rose Antrobus).

Die gebou het ’n gekapte klipfondament, rooibaksteen konstruksie met ligte sandsteen-inleg – die sogenaamde ‘Streaky Bacon Style’ konstruksionele polikronie waar bane steenwerk afgewissel is met marmer (of in hierdie geval sandsteen) inleg bane – tipies van die periode 1870 tot laat 1890s’ se bouwerk.

Die sierlike boogdeure en boogvensters is gekomplimenteer met hout skuifraamvensters op die bo-vloer. Agt gekroonde pilasters het die ingange na die gebou versier. Die dak was gekroon met drie dakvenstergewels (dormer windows with gables) en die nokke was afgewerk met tipies Victoriaanse sier-metaalwerk. Balkon pilare is afgerond met metaal-sierwerk tipies van laat negentiende eeu en die buitehoeke van die gebou was afgerond met sier-torinkies.

’n Hout siertrap het van die hoofingang portaal aan Walter Sisulustraat (Kerkstraat) kant, na die bo-vloer gelei, met tipies van die era ’n ‘huishulptrap’ aan die agterkant van die gebou. Twee verdere ingange op die straatfront het gelei na vertrekke wat waarskynlik as besighede/kantoorruimte beplan was. Links van die hoofingang was ‘n reeks van drie vertrekke – waarskynlik oorspronklik kantore – later jare ’n wooneenheid.

Op die hoek was ’n ingang na ’n groot vertrek met binnedeure na verdere vertrekke. Hierdie area was tydens die Britse-besettingsperiode Standard Bank en in latere jare die eetsaal van die Losieshuis. Alle vertrekke het plankvloere gehad. Die gebou getuig van ’n argitek-ontwerp en aandag aan detail. Koste is nie gespaar in die buite afwerking van die gebou nie.

Meeste inwoners het dit geken as ’n losieshuis of ‘die Boere-hotel’ en daar is dikwels gespekuleer oor wie dié Blake was. Verskeie stories is vertel en baie stories het stertjies gekry – so ook die Blakes van Blake House.
Ongelukkig is die akte vir die oorspronklike registrasie van die gebou op erf 232, op die suid-westelike hoek van Walter Sisulu- (Kerk) straat en Joubertstraat, verlore en kan die gebou se verhaal eers vanaf 1901 opgespoor word, gekomplimenteer deur verskeie poskaarte uit die era.

Die gebou is egter verweef met verskeie persone met dié van Blake.

Robert Blake en Anna Susanna Blake:

Blake House is waarskynlik ongeveer 1890-95 opgerig deur ’n vee-spekulant van Kaapstad, Robert Blake, Junior. Hy is op 2 Oktober 1865 in die Paarl, Kaap Kolonie gebore as deel van vier kinders, met ’n broer en twee susters. Hy tree in die huwelik met Anna Susanna van der Westhuizen en hulle het twee kinders Robert Da Costa Blake en Aurora Elizabeth Blake. Hoe hy in Middelburg betrokke geraak het en hoekom hy die sierlike gebou hier opgerig het, bly ongelukkig ’n onopgeloste raaisel. Waarskynlik het die gebou gedien as sy kantoor in die area, maar daar is geen bewys daarvoor nie.

Robert Blake.
Robert Blake (1865–1900) (Foto’s: Family Search).

Ongelukkig sterf Robert Blake op 15 Oktober 1900 op 35-jarige ouderdom in die Paarl aan sirrose van die lewer. Anna Susanna Blake, sy eggenote, word nou die eienaar van Blake House. Geen inligting is bekend oor die gebou se aanwending tydens die oorlog of gedurende die stasionering van die Britse Garnisoen in Middelburg nie.

Anna Susanna Blake.
Anna Susanna Blake (gebore van der Westhuizen) (1866–1956) (Foto’s: FamilySearch).

Anna Susanna Blake was waarskynlik ’n Groot Trek afstammeling en die dogter van Johannes Petrus van der Westhuizen en Elizabeth Susanna van der Westhuizen. Sy word op 22 Julie 1866 op Escourt in Natal gebore. Sover vir die eienaars van Blake House.

‘Kolonel’ John Young Filmore Blake:

Filmore Blake (Foto: Jennifer Bosch).
Filmore Blake (Foto: Jennifer Bosch).

Tydens die Anglo-Boereoorlog verskyn ’n verdere Blake in Middelburg – John Young Filmore Blake, en sy storie word ook verdraai en aan Blake House gekoppel. Hy was ’n Iers-Amerikaner wat op 6 Oktober 1856 in Bolivar, Polk County in Mousouri in Amerika gebore is. (Hy was na bewering die aangenome broer van die Apache Indiaan Hoofman Geronimo). Hy studeer aan Arkansas State University. Hierna word hy in 1876 toegelaat tot die Militêre Akademie op West Point en gradueer in Junie 1880. Hy ontvang kommissie as ’n tweede luitenant in die kavallerie. Hy neem deel aan die Apache Oorloë (1849-1886) en word daarna bevorder tot luitenant.

In 1889 bedank hy egter sy kommissie en verlaat die Leër. Hy probeer, maar misluk, as sakeman in Grand Rapids en kom in 1895 na die Zuid-Afrikaanse Republiek as goud prospekteerder. Hy is betrokke by die onderdrukking van die Matabele opstand in Rhodesië. In 1899 met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog word ’n Ierse Brigade uit die Iere en Iers-Amerikaanse myners in die ZAR georganiseer en word hy aangestel as bevelvoerder, waarskynlik weens sy West Point opleiding, nou met die self-toegekende rang van kolonel. ‘Kolonel’ John Blake lei nou hierdie ‘berugte’ groep.

In April 1900 land ’n groep van ongeveer 50 lede van die Chicago Ambulance Corps in Beira en word toegelaat om na die ZAR te reis. Die groep bestaan uit hoofsaaklik Iers-Amerikaners uit Chicago. (In DW Kruger se beskrywing van die verskuif van die goudreserwe maak hy melding van ’n groep Ierse-vrywilligers wat op 5 Junie 1900 by Machadodorp – dit is waarskynlik hierdie groep wat in ’n taamlik ‘Ierse-byeenkoms’ in die nag hulself probeer warm hou het, toe die trein met die goudreserwe teen 02:00 Machadodorp bereik het).

Oliver John (Jack) Hindon (1874–1919) (Foto: Jennifer Bosch).
Oliver John (Jack) Hindon (1874–1919) (Foto: Jennifer Bosch).

In die periode is drie bekende Middelburgers op verlof tuis, Jack Hindon, Henri Slegtkamp en De Roos. Terselfdertyd kom ‘kolonel’ Blake in Middelburg aan om die Chicago-groep te ontvang. Toe die groep hier aankom, is Blake verbaas om ’n ‘ambulans-groep’ te ontmoet. Hy deel hulle mee dat hy vegters benodig en nie ambulans personeel nie – die groep ruk onmiddellik hul Rooi Kruis armbande af en verklaar hulself as vegters. (Die voorval sou later verreikende gevolge in die Internasionale Rooi Kruis-kringe veroorsaak).

Jack Hindon, Henri Slegtkamp en De Roos sluit by die groep aan as deel van die Ierse Brigade, met ‘kolonel’” Blake as leier. Of John Young Filmore Blake ooit Blake House gesien het, dalk daar oorgebly het of van die gebou geweet het, is totaal onbekend, maar sy naam word wel in ’n stertjie aan Blake House gekoppel. Die koppeling is via Jack Hindon.

John Tower Blakewaarskynlik voor 1870 (Foto: Blake-familie).
John Tower Blake waarskynlik voor 1870 (Foto: Blake-familie).

Hindon, ’n baas verkenner en trein saboteur tydens die Anglo-Boereoorlog, gedroste Britse soldaat uit die Anglo-Zoeloe oorlog. Hy het as deel van die Middelburg Kommando gemobiliseer vir die Jameson-inval en ontvang daarom ZAR burgerskap daarvoor. Na die oorlog is hy in 1903 met Pauline Coetzee getroud. Hy reis in 1904 na Amerika waar hy deel van die St. Louis Boer Circus, as adjudant van generaal Piet Cronje, was. Of hy daar weer vir John Young Filmore Blake ontmoet het is onbekend. Blake het na die oorlog na Amerika terug gekeer en is op 24 Januarie 1907 oorlede in ’n gas-lekkasie voorval.

Die Boere Sirkus speel bankrot en die burgers, waarskynlik ook Hindon, keer in Oktober 1905 terug na Suid-Afrika. Hindon keer terug na Middelburg waar hy kort hierna ’n motor-neuronsiekte ontwikkel. Hier kom die Blake House weer in die prentjie, Hindon en Pauline Hindon voer ’n arm bestaan in Middelburg en Blake House word tot hul beskikking gestel, om as losieshuis te bedryf, ten einde ’n inkomste te verdien. Stories het dit dat dit John Young Filmore Blake is wat Blake House aan hulle beskikbaar gestel het.

John Tower Blake – Onbekende datum, waarskynlik kort na aankoms in Suider-Afrika in 1870 (Foto: Blake Familie).
John Tower Blake – Onbekende datum, waarskynlik kort na aankoms in Suider-Afrika in 1870 (Foto: Blake Familie).

Die ware feite, soos beskryf en ook beskryf deur Jack Hindon self in sy testament, is dat dit Anna Susanna Blake, weduwee van Robert Blake, junior, is wat die gebou aan hulle beskikbaar stel en ook geld voorskiet. Of hierdie transaksie voor die sirkus-ekspedisie van 1904 plaasgevind het of eers na Jack se terugkeer in 1905, is onbekend. Wat wel bekend is, is dat ten tye van die Britse besetting van Middelburg, Standard Bank in Blake House gefunksioneer het.
John Young Filmore Blake koppel slegs aan Blake House omdat hy die verkenner Jack Hindon geken het, en Hindon wel later in Blake House gewoon het.

Na Jack Hindon se dood word Blake House volgens sy testament aan Anna Susanna Blake, ten tye van Kenilworth in die Kaap, terug besorg. Sy moes die gebou verkoop het aangesien ten tye van haar dood in 1956 die eiendom nie deel van haar boedel uitmaak nie.

Dr John Tower Blake:

Die laaste Blake in die Blake House verhaal is dr John Tower Blake. Daar word in familie-verhale beweer dat dr John Tower Blake, Blake House ná Jack Hindon se dood gebou het vir sy weduwee Pauline Hindon, om as losieshuis te benut. Ongelukkig is dit nie waar nie. Dr John Tower Blake was wel sterk pro-boer georiënteerd met verskeie ander interessante familie-stories oor hom en die Anglo-Boereoorlog.

Here is the corrected and standardized version of the caption:Corrected Capitalization Dr. John Tower Blake in latere jare (Foto: South African Who's Who).
Dr. John Tower Blake in latere jare (Foto: South African Who’s Who).

Hy is op 1 Desember 1840 in Providence, Rhode Island in die Verenigde State van Amerika gebore as een van ses kinders van George Emerson Blake (1809-1897) en Mary Saunders née Johnson (1805-1888). Min is bekend oor sy loopbaan tot die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog.

Daar word beweer dat hy toegelaat was tot die West Point Militêre Akademie en kwalifiseer as offisier. Die rekords by West Point dui egter aan dat hy nie daar studeer het nie en die Akademie verklaar dat hy nie ’n student aan West Point was nie.

Hy neem wel deel aan die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) en word gewond tydens die Geveg van Gettysburg, 1-3 Julie 1863, waar hy sy arm breek.

Dr. R. A. Blake – 1907 deel van Middelburg Rugbyklub (Foto: Laver Versameling – Rose Antrobus).
Dr. R. A. Blake – 1907 deel van Middelburg Rugbyklub (Foto: Laver Versameling – Rose Antrobus).

Hy herstel vinnig en word op 28 Oktober 1863 bevorder tot 2de Luitenant in dieselfde Regiment. Hy demobiliseer op 19 Augustus 1864 en verlaat die weermag.

Hierna studeer hy aan die Harvard Kollege in die VSA waar hy as geneesheer kwalifiseer. Waarskynlik 1865-1869 (Vier jaar opleiding).
Hy kom in 1870 na Suider Afrika en praktiseer in die Kaap kolonie, Oranje Vrystaat en die Zuid-Afrikaanse Republiek, ondermeer in Kimberley, Philippolis, Bethulie, Colesberg en Zeerust.

Op 14 Desember 1870 tree hy in die huwelik met Eleanor Curtis Aldrich. Hulle het drie kinders. Die egpaar skei in 1881 in Bloemfontein. Hy tree daarna in die huwelik met Miriam néé Stroud en die rekord van een seun kon gevind word.

Ten tye van die uitbreek van die oorlog is dr Blake in praktyk in Zeerust en is die distrik geneesheer vir Marico. Hy was reeds 60 jaar oud tydens die Oorlog.

Blake House, circa 1975.
Blake House, circa 1975.

Volgens familie oorvertellings het hy op ’n plaas buite die dorp gewoon en met perde geteel. Toe die Britte glo op die plaas opdaag om sy perde op te kommandeer, word vertel, het sy vrou hulle besig gehou en hy het uitgegaan en al die perde dood geskiet. Toe die Britte na bewering sy mediese voorrade wou konfiskeer het hy dit opgeblaas. Ongelukkig kan geen bewyse vir die vertellings gevind word nie en is die medisynestorie waarskynlik fiktief, omdat geen verslae bestaan van opkommandering van geneeshere se voorrade by hul huise nie (wel ambulans waens en aan die front).

Hy was distriksgeneesheer vir Marico en in die aanloop tot die Oorlog rig hy ’n 25-bed hospitaal in, in die Vrymesselaarslosie van Zeerust met waarskynlik sy eie mediese voorrade. Hy was ’n Vrymesselaar. Die hospitaal was egter te ver van die front en het skynbaar min bydrae tot Boere behandeling gelewer. Met die Britse aanmars word Zeerust oorgeneem en word No 33 Stationary hospitaal vanaf 2 November 1900 in Zeerust ontplooi. Daar bestaan geen verdere rekords van gebruik van die hospitaal in die Vrymesselaarslosie nie.

Dit wil voorkom of hy na die Oorlog na Amerika terugkeer omrede die X-straal van sy arm in 1907 in die VSA geneem is.

Besigheidskompleks gebou op die perseel nadat Blake House gesloop is (Foto: Rudi van Wyk).
Besigheidskompleks gebou op die perseel nadat Blake House gesloop is (Foto: Rudi van Wyk).

Hy praktiseer na die Oorlog in die Wes-Transvaal, want met sy dood in 1927 besit hy verskeie eiendomme in Klerksdorp. Na aftrede vestig die egpaar hulle by hul kleinseun op die plaas Malta by Roossenekal.

John Tower Blake sterf op 22 Julie 1927 in die Middelburg Distrik Hospitaal op 86-jarige ouderdom. Mirriam sterf op 8 Desember 1947 in Roossenekal op 94-jarige leeftyd.
Dr John Tower Blake, die veteraan van die Amerikaanse Burgeroorlog en die Anglo-Boereoorlog word in die Ou Begraafplaas Middelburg Wes begrawe – Van Gettysburg na Middelburg!

Daar word ook beweer dat John Tower Blake die gebou Blake House in Middelburg gebou het vir die weduwee van Jack Hindon (Blake, 2024). Dit is nie waar nie en die gebou het aan Anna Susanna Blake, die weduwee van Robert Blake behoort. Jack Hindon se begrafnis het reeds uit die gebou plaasgevind, so dit kon nie vir sy weduwee gebou gewees het nie.

In ’n analise van die families tot in die 17-honderds, kan geen verwantskap opgespoor word tussen die familie van Robert Blake (1865-1900) – eggenoot van Anna Susanna Blake (1866-1956), John Young Filmore Blake (1850-1907) en John Tower Blake nie.

Daar bestaan ’n foto van ’n dokter RA Blake wat in 1907 in Middelburg gepraktiseer het. Tussen 1909-12 is daar rekeninge deur hom vanuit Belfast. Dr en Mev RA Blake is in 1919 gaste by Harry Laver Jnr se huwelik. Geen inligting is oor hom bekend nie en hy is nie verwant aan dr John Tower Blake nie.

Blake House in latere jare

Die aanwending van die gebou is vaag na die dood van Jack Hindon in 1919. Wat bekend is, is dat sy vrou Pauline daarna langs die gebou in ’n huis gewoon het en as bibliotekaresse vir die Munisipaliteit gewerk het.

Teen 1969 besit mev. Chrissie Butler Blake House en bedryf ’n losieshuis in die gebou. In die periode is die gebou ‘opgeknap’ en die oorspronklike steenwerk oorgeverf en die sierlike balkon=reëlings met asbesplaat vervang. Die pilasters is nou ook duidelik sigbaar.

In die vroeë 1970’s word die erwe verkoop, die gebou gesloop en ’n winkelsentrum op die erf gebou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button