News

NUUS: Rou riool ruïneer steeds diere se waterbron

Beeste en bokke drink steeds rou rioolwater wat by ’n spruit op ’n plaas inloop.

Daar is twee weke terug al berig oor plaaslike boer Pieter Joubert wat siek en sat is vir die rioolramp in die Rondebosch area. Die hoofrioleringsafvoerpyp, wat al vir meer as ’n jaar verstop is, veroorsaak enorme waterkontaminasie in ’n natuurlike loop. Daar is sowat 150 beeste en 80 blesbokke op CSP Landgoed, wat aan die dorp grens.

Rou rioolbesoedeling van spruit en boorgate op Rondebosch. Foto: Verskaf.

Die spruit is net noord van die spoorlyn langs die ou Middelburg/Belfast (R104-pad) en vloei oor meer as 1.4 km na die noordelike grens van die eiendom waar dit in die Klein Olifantsrivier invloei. Die spruit waarin die rou riool vloei is dié vee se hoof waterbron en veroorsaak risiko’s van siekte en sterftes.
Watertoetse wat Pieter deur ’n privaat laboratorium laat doen het, wys ernstige nagevolge vir mens en dier. Alhoewel die inwoners op boorgatwater staatmaak, toon hierdie water ook nou tekens van besoedeling weens rioolinsypeling en bedreig dus nou ook hul veiligheid. Die watertoetse wys ’n uiters hoë risiko van siektes soos cholera, tifus en disenterie.

Die spruit vloei direk in die Klein Olifantsrivier in. Foto: Verskaf.
Die invloei van rou riool in die vleiland veroorsaak besoedeling deur patogene, ontwrigting van biodiversiteit. Foto: Verskaf.

Daar is gesê dat die riool in die vleiland besoedeling veroorsaak deur patogene en skade aan biodiversiteit. “Hierdie probleem het reeds groot ontbering op ons plaas veroorsaak, en verdere vertragings in optrede sal die risiko van siekte-uitbrekings, vee-sterftes en langtermyn-omgewingskade verhoog!” sê Pieter omgekrap.

Die invloei van rou riool in die vleiland veroorsaak ontwrigting van biodiversiteit. Foto: Verskaf.

Die Nasionale Omgewingsbestuurswet (NEMA) bepaal dat individue of instansies wat besoedeling veroorsaak, aanspreeklik gehou kan word. Hulle is verplig om toepaslike stappe te neem om besoedeling te voorkom of te verminder. “Die Nasionale Waterwet (NWA) beklemtoon dit verder. Die gebrek aan reaksie, aandag en die volledige minagting van wetgewing deur die munisipaliteit word hiermee deeglik aangeteken.” Hy het gemeld dat hy geen reaksie van rdl. Paul Williams of die Steve Tshwete Munisipaliteit gekry het op geskrewe klagtes nie. “Dit is verraad wat gepleeg word teenoor so ’n lewensbelangrike natuurlike hulpbron en wat met minagting hanteer word.” Rdl. Williams sê dat hy en rdl. Sizwe Zulu wel ingegryp het en gereël het dat die lekkasie twee weke gelede herstel word en was hy in gesprek met Pieter.

Daar is geen teken van visse in die spruit nie. Foto: Verskaf.

Hy het geaffekteerde inwoners verseker dat die munisipaliteit van die probleem werk maak en beloof dat ’n verslag aan Pieter verskaf sal word.
“Jy kan dit duidelik soos daglig sien, die situasie is onveranderd!” het Pieter in antwoord daarop gesê. “Hier is steeds niks, maar niks gedoen aan die saak nie.
Hierdie spruit stink ‘letterlik’ vrot en die beeste drink dit glad nie. Ons Blesbokke het geen ander keuse as om dit te drink nie – die spruit is al wat beskikbaar is.” het Pieter ter afsluiting gesê.

Teen druktyd het hy nog nie ’n antwoord van rdl. Williams óf die munisipaliteit gekry nie en is die water in die spruit steeds ondrinkbaar vir sy diere.

• Munisipale woordvoerder Lerato Kgomo het nie voor druktyd op navrae gereageer nie.

Die spruit dien as ’n noodsaaklike waterbron vir vee, diere, plantegroei en voëllewe in die gebied. Foto: Verskaf.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button