‘Prinsie’ bring troos na ‘prinsessie’ presies ‘n jaar terug sterf
'n Jaar nadat haar 'prinsessie' gesterf het, is 'n vrou dankbaar vir hul nuwe 'prinsie' wat hoop gebring het.
Terwyl sy met haar babaseuntjie se handjie speel, loop die trane as sy dink aan hul dogtertjie wat ‘n jaar gelede gesterf het, maar dit is ook trane van dankbaarheid omdat ‘n Hoër Hand hulle kom troos het.
Presies ‘n jaar en ‘n dag nadat hulle dogtertjie, Lianke-Lee Nortjé doodgebore is, is klein Drian Marcell Johan Nortjé op 1 Oktober gebore.
Nog baie trane oor ‘prinsessie’
Sonnette Cassell is dankbaar vir elke oomblik saam met haar seuntjie, maar sy kan nie anders as om tog soms ‘n oomblik te gaan stilstaan en te huil oor haar ‘prinsessie’ nie.
Lianke-Lee is op 2 Oktober 2024 doodgebore nadat komplikasies ingetree het. Sonnette het gemeld dat hulle wel nog aangaan met die beplande saak teen die Witbank hospitaal as gevolg van die gebeure waartydens haar baba gesterf het. Daar is verlede jaar gemeld dat die hospitaal verskoning gemaak het oor die gebeure. (Met die Observer se navraag by die gesondheidsdepartement destyds is gesê dat Sonnette ‘n ernstige swangerskapkomplikasie, naamlik pre-eklampsie, gehad het).

“Daar is nie ‘n dag wat verby gaan wat ek nie aan haar dink nie. Sy sal altyd haar mamma se prinsessie bly, sy sal vir altyd deel wees en bly van my, niemand sal haar plekkie ooit kan vat nie…”
Dit was nie ‘n maklike pad na haar dogtertjie se dood nie.
“Ek het baie gemengde gevoelens gehad, ek het begin opgee en gesê ek soek nie weer ‘n baba nie en dat daar nooit weer ‘n baba sal wees na haar dood nie.”
In haar routydperk, “het ek myself verloor en ek het probeer selfmoord pleeg, maar dit het nie gewerk nie.”
Jesus troos met ‘n ‘prinsie’
Sy het gedink daar is moontlik komplikasies nadat haar kind doodgebore is toe haar maandstonde skielik verdwyn. Sy het egter na ‘n ruk ‘n selftoets gedoen en gesien sy is swanger.
“Ek was in die sewende hemel dat Jesus my nog ‘n kans gegee het. Ek was só só bly, want ek het gedink ek sal nie weer swanger word nie en toe kom my klein prinsie.”
Daar was egter baie vrese in haar hart, veral toe sy op 29 weke gedink het sy gaan hom verloor. “Jesus het my egter gewys ek sal hom nie verloor nie! Ek het geloop tot 38 weke en twee dae en die keiser is gedoen op 2 Oktober 2025.”
Hul bulletjie was ‘n gesonde 3.9kg en 50cm lank. Sy onthou hoe haar liggaam in skok gegaan het in die teater, “maar gelukkig het hulle vinnig gespeel om hom uit te haal.”

Sy kan dit steeds nie oor haar hart kry om haar dogtertjie se kleertjies en ander goedjies weg te gee nie. “Al my prinsessie se goedjies is mooi weggebêre in ons kas. Ek wil dit nie weggee nie, want sy is nog deel van my. Ons sal nooit haar goedjies weggee nie….”
Boodskap vir ander ouers: ‘Huil as jy wil huil’
Sonette en haar lewensmaat Johandré Nortjé wil graag vir ander ouers wat deur dieselfde trauma as hulle gegaan het, ‘n spesiale boodskap gee. “Moet nooit jouself druk om gesond te word daarvan nie en moet ook nie dat ander jou druk nie. Vat tyd en werk deur jou seer, want ander ervaar nie die trauma soos jy dit ervaar nie. Wat vir hulle gewerk het, gaan nie noodwendig vir jou ook werk nie. Vat dit dag vir dag. Skree as jy wil skree, huil as jy wil huil. Om ‘n kind te verloor is die ergste seer wat jy kan deurgaan. Jy as mamma of as pappa sal weet hoe om jou trauma te hanteer…”
