Breyton Paulse maak wawiele in W2W – Bakkies beseer
Een vrou is braaf genoeg om die Karoo se giere aan te durf x2.
W2W staan nie vir twee maal wawiele nie, dit staan vir FNB Wines2Wales, ’n driedag bergfietswedren in die Grabouw omgewing.
Die einste fietswedren wat die einde beteken van die wawiel koning, Breyton Paulse, se Munga uitdaag.
Paulse sou volgende week saam met Bakkies Botha, Magda Nieuwoudt, Rika Calitz en Hammie Wessels, aan die uitmergelende fietswedren vanaf Bloemfontein na Wellington se wynlande deelneem.
Die Wines2Wales webblad wys agter Breyton Paulse se naam daardie aaklige uitslag wat geen sportman wil sien nie DNF, Did Not Finish!
Hy moes hom aan die wedren onttrek en gevolglik ook aan die Munga.
Alle oë gaan op sy spanmaat, Magda Nieuwoudt, wees.
Dié oud Middelburger, een van die land se beste driekampers, gaan nou twee skofte ry.
Wanneer jy hoor hoe huil geharde fietsryers wanneer die ongenaakbare Karoo met hulle klaargespeel het, kan jy nie anders as om Nieuwoudt se braafheid te respekteer nie.
Sy durf boonop die laaste lang skof aan en moet ook saam met haar vier spanmaats 40km tot op die einde ry, ’n totaal van meer as 500km.
Daar is die laaste tyd gespot dat Bok afrigter Rassie Erasmus vir Bakkies Botha moet oproep vir diens.
Dit sou ’n definitiewe rooikaart gewees het, dalk nog terwyl die volkslied gesing word.
Bakkies vat mos nie nonsens van kabouters nie en veral nie van grootmond Iere nie.
Die twee Springbok rugbyspelers is egter albei uit die Munga met Bakkies wat na wat verneem word ’n skouerbesering opgedoen het.
Intussen lek die Middelburgse Munga spanne, die Care Riders, hulle lippe af vir die uitdaging.
Hulle is die verdedigende equippe kampioene en het duisende kilometers afgelê, om alles wat die Munga kan opdis, te weerstaan.
Die Munga spanne is Woensdagaand deur Middelburg Fietsryklub onthaal om hulle sterkte toe te wens.
Die Middelburg Observer gaan volgende week sy lesers deurentyd op hoogte hou hoe die spanne vorder.
Die VlokSkop span het die afgelope tyd ’n lae profiel gehandhaaf met hulle voortrapper, Vlok Cilliers, wat by die Franse rugbyspan betrokke is.
Hulle kan dalk die buiteperde wees om die equippe te wen.
Al is daar so bietjie kompetisie is die spanne almal ingestel om geld in te samel vir ’n liefdadigheidsorganisasie.
Middelburg se deelnemers trap vir die kinders van die Care Village.
