Fietseienaars glo nie in toeval na inbrake nie, sê sindikaat sit daar agter
Nuwe tendens wys inbrekers soek nou duur fietse.
Twee plaaslike huisgesinne glo nie dat dit net blote toeval was dat daar in Aerorand en Kanonkop twee eenderste inbrake gepleeg is, waartydens net hul fietse geteiken is nie.
Middelburg Observer het Dinsdag aanlyn berig van twee inbrake in die dorp met kommerwekkende ooreenkomste, waar duur fietse die teiken was. Maar dit is wat na die laaste inbraak en diefstal gebeur het, wat een van die slagoffer gesinne stomslaan. Die ooreenkomste is dat daar in beide huise net verskeie top handelsmerk-fietse geteiken is, terwyl duur gereedskap en ander waardevolle artikels was wat agter gelaat is. Die manier waarop daar ingebreek is stem ook ooreen.

In Sneeubergstraat het die huiseienaar verlede Donderdag kort na 04:00 die oggend die inbraak in sy motorhuis onderbreek. Die hek is van sy spoor af getel en die motorhuisdeur is oopforseer. Mid Alarms was blitsig op die toneel maar die diewe was reeds weg. Daar is al die fietse gelukkig terug gekry.
Gisteroggend het dieselfde gebeur in Meidoringstraat waar drie fietse met ’n geskatte waarde van R160 000 uit die motorhuis gesteel is. Die hekmotor is op selfskuif gesit en die motorhuisdeur is oopforseer. Drie van die vier duur fietse, terwaarde van ’n geskatte R160 000 is gesteel.

Juanitta Annandale sê sy was Dinsdagmiddag verheug toe sy ’n oproep van ’n sersant Sithole kry, met die nuus dat die fietse opgespoor is. As hulle die vriendelike Sithole R3 000 betaal, kon hulle dadelik die fietse terugkry. Sithole is sonder moeite afgestry na R1000 vir die uitboek van die fietse. Aldus Sithole is die polisie se stoorkamer so vol gesteelde fietse, dat hy die Annandales ’n guns sou doen om ten minste hulle fietse van sy polisienek af te neem.
Toe Jaunitta vir ’n foto vra ter bevestiging was Sithole nie meer so viendelik nie. Juanitta is geskel omdat sy durf dink het Sithole is ‘so stupid’ om ’n foto te neem. Skoonma Sonette Annandale het Juanitta in die kar gelaai en is reguit polisiestasie toe om die omkopery te gaan aanmeld. Daar gekom het niemand van ’n Sithole geweet nie.
Sonette sê sy het behoorlik haar mond uitgespoel omdat dit duidelik is dat persoonlike informasie, soos die saaknommer en hul foonnommers, deur die bedrieër met die afpersery bevestig is. “Dit is informasie wat uit die polisie lek,” glo sy.
Die Sneeubergstraat huiseienaar was ook self met die Annandales in kontak nadat hy hule op Facebook opgespoor het. Hy glo ook daar steek meer agter die inbrake as blote toevalligheid. Daar is onlangs egter by beide huise werk gedoen, hoewel die Annandales in dié kinkel twyfel.
Die polisie is genader vir kommentaar, maar daar is nog nie ’n antwoord ontvang nie.
