News

Om ooggetuie te wees van lyfstraf

Wanneer die houe val, is dit nie soos ’n pakslae in die hoof se kantoor nie

’n Storm het om die kop losgebars van die minister van Korrektiewe Dienste, dr Pieter Groenewald.
Minister Groenewald het voorgestel dat lyfstraf weer oorweeg moet word.
Sy redenasie is dat dit onmenslik is vir jeugdige oortreders om maande lank verhoorafwagtend te wees.
Dit sal volgens hom beter wees om hulle lyfstraf te gee, en dan kan hulle die slegte tronkomstandighede vryspring. Volgens dr Groenewald is daar 99 persent steun uit die gemeenskap vir sy voorstel.

Onmiddellik kritiek

Daar was onmiddellik kritiek met Die Burger wat vanoggend aankondig “Minister gelooi oor lyfstraf-voorstel”.
Mzwanele Sokopo, ’n ANC-lid, het gesê sy is seker dat dr Groenewald weet hy stel iets voor wat onwettig is.
Natuurlik is die debat oor lyfstraf doodgebore net soos die debat oor die doodstraf.
Nooit is ’n lang tyd, maar in die huidige tydvak sal lyfstraf en die doodstraf nie weer in Suid-Afrika ingestel word nie.
En natuurlik is daar mense wat uitroep “hang hulle” of “b… hulle”.
Die twee strawwe word selfs deur sommige geromantiseer.

Maar wat is lyfstraf?

Nee, dit is nie ’n paar houe in die hoof se kantoor nie.
Dit is wreed. Dit is onmenslik.
Was by die Witbank Landdroshof om verslag te doen oor ’n jeugdige oortreder.
Sy straf was ses houe met ’n ligte rottang.
Het nog gedink ’n ligte rottang behoort nie te erg te wees nie.
Het saam met die twee hofordonnanse en gevonnisde na ’n donker vertrek onder in die hofgebou gestap.

Gesoute slaners

Daar was ’n bankie.
Verskillende rottangs het teen ’n muur gestaan.
Die jong man is beveel om hom uit trek en op die bankie te lê.
Nakend.
Hofordonnanse wat lyfstraf uitgedeel het, was gesoute slaners.
Hulle het eers “opgewarm”.
Die hou het van hoog bokant hulle koppe gekom.
Na die eerste hou het die gevonnisde gekrul van die pyn.
Daar was nog ’n hou.
Hy het gegil!
Nog een…
Hy het homself bevuil.
Nog ’n hou…
Stukkend, flenters geslaan.
Waar die eerste hou geval het, op presies dieselfde plek, was daar nog ’n hou…
…en nog een.

Dink weer

In ’n land waar daar om wraak geroep word, kan mens verstaan dat byna die hele bevolking vra vir vergelding.
Roep vir die herinstelling van die doodstraf en lyfstraf.
“Hang hulle, b…hulle!”
Dink weer…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button