CrimeNews

NUUS: Vrou veg verbete toe inbreker haar wou verkrag

Vrou in Middelburg oorleef poging tot verkragting, veg verbete terug teen inbreker wat met gesteelde huisware gevlug het.

’n Vrou het vir lewe en dood geveg, dat sy nie verkrag moet word nie, met haar aanvaller bo-op haar.

“Ek het gebyt, my vingers in sy oë gedruk en hom geskop,” vertel die vrou van die gebeure Maandag in die vroeë oggendure toe ’n man haar probeer verkrag het. Haar naam word weens verstaanbare redes weerhou.

“Vandag kan ek net dankie sê vir die Here dat hy my bomenslike krag gegee het om hom van my af te kry. Daardie man wou my verkrag.”

Omdat sy eers wakker geword het nadat hy reeds bo-op haar was, is die vrou dieselfde oggend nog na die Middelburg Hospitaal vir ’n ondersoek om seker te maak sy is nie wel verkrag nie, want dit was vir haar baie vreemd dat sy nie vroeër wakker geword het nie.

Sy het Sondagaand vroeg gaan slaap, om die volgende oggend vroeg op te staan vir werk.

Omstreeks 03:00 het sy wakker geword met die man bo-op haar.
“Hy het vir my gesis: ‘Tsek!’ (voertsek) en my gewelddadig aan my borste beetgekry.”

Alhoewel sy met haar badkamerlig aan slaap, kon sy in die skemerdonker glad nie sy gelaatstrekke uitmaak nie. Sy weet net dit was ’n lang man.

Sy het oombliklik besef hy is op die punt om haar te verkrag en sy het met alles in haar begin baklei.
“Ek het vir my lewe geveg, want hy het iets in sy hand gehad. Ek weet nie of dit ’n mes was nie, want dit was te donker in die kamer.”
Terwyl sy geworstel het, het sy gevoel hoe haar nagklere skeur.

“Ek het álles probeer. Ek het die hele tyd geskree, hom op sy skouer gebyt en my vingers in sy oë gedruk. Dit het hom baie kwaad gemaak.”

Tydens die geveg het hulle van die bed af geval en hy het haar teen die muur vasgegooi. Sy het die hele tyd haarself probeer beskerm.

Die vrou se aanhoudende teenaanvalle en geskree het hom waarskynlik ontsenu, waarna hy opgespring en uitgehardloop het.
In haar geskokte toestand het die vrou agter hom aangehardloop en eers buite agtergekom dat sy net haar onderklere aanhet.
Teen hierdie tyd was die buurman al in haar erf. Hy het die geskree gehoor en oor die muur gespring.

Hulle was net betyds om te sien hoe drie mans, waarvan een haar aanvaller in ’n bakkie, hoogvol met huisware gelaai, in die donker wegjaag.
“Ek glo hulle was lank voordat hy bo-op my geklim het, al in my huis, want hulle het álles van waarde gesteel, my plasma televisie, mikrogolfoond, hoëtroustel en alles wat hulle uit die kaste geruk kon kry.”
Die banke in haar sitkamer was ook reeds onderstebo gedraai om te laai.

“Ek dink die een wat bo-op my was, het gekom na my kamer toe terwyl hulle nog besig was om te laai.”

“Ek is angsbevange, terwyl ek met jou praat hieroor, bewe ek die hele tyd!” Sedert die aanval het sy nog nie weer behoorlik geslaap nie.
“Ek is twee maande gelede net ’n blok vanaf die polisiestasie ook beroof!” Die rower het haar van agter af beetgekry, haar met iets skerp in die gesig gesteek en haar selfoon geroof. “Ek het nou nog die merk in my gesig.”

Al vrees sy nou vir haar lewe, is sy dankbaar dat ’n Hoër Hand haar beskerm het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button