News

Gestremde jong man kry beroerte na operasie aan sy enkel

Na 'n operasie wat 'n gestremde seun moes help van sy krukke af, het hy 'n beroerte gehad en is nou aan 'n rolstoel gekluister.

Willem Esterhuizen, die verstandelik gestremde jong man wat twee jaar gewag het vir ’n operasie na ’n fietsongeluk, het ná die operasie wat hom moes help, ’n beroerte gehad.

“Willem het van ’n lewenslustige jong man wat gehou het van visvang, verander in ’n klein kindjie wie se hande saamtrek en net in ’n rolstoel kan sit,” het sy ma, Patricia Smit hierdie week hartseer gesê.

Willem Esterhuizen soos almal hom geken het. ‘n Lewenslustige jong man wat gehou het van visvang. Foto: Verskaf.
A young man in a wheenchair after he had a stroke after an operation.
Willem Esterhuizen is nou voltyds in ‘n rolstoel. Volgens dokters het hy ‘n ligte beroerte gehad.

Alhoewel dokters vir Patricia gesê het dat hy net ’n ‘ligte beroerte’ gehad het, het alles verander in hul huishouding.

Voor die ongeluk, wat op 25 Oktober 2023 gebeur het toe hy van sy fiets af gestamp is deur ’n voertuig, het Willem karre opgepas en het graag geselsies met almal aangeknoop.

Die ongelukstoneel op 25 Oktober 2023 waar Willem Esterhuizen raakgery op sy fiets deur ’n voertuig. Hy is twee jaar later eers geopereer. Foto: Daleen Naude.

Nou trek sy hande in spasmas saam, hy ken nie eers meer sy ouma of sy beste vriend nie en praat soos ’n driejarige kind.

Daar is talle kere al geskryf oor Willem wat sy enkel sleg gebreek het tydens dié ongeluk in Vosstraat.

Vir twee jaar moes hy daagliks met ’n kruk loop totdat die operasie uiteindelik vanjaar op 13 Oktober in die Witbank Hospitaal gedoen is.

Op 6 November moes Patricia-hulle met hom in die nag na die Middelburg Hospitaal jaag, omdat Willem glad nie gereageer het nie en sy hande saamgetrek het.
Patricia is kort daarna in kennis gestel dat hy die ‘ligte beroerte’ gehad het.

“Die dokter het onlangs vir ons gesê dat Willem nou voltyds sorg gaan nodig hê en dat sulke goed ‘maar gebeur met gestremde mense’. Daar is gesê hy kon die beroerte gehad het weens die pyn en hoë bloeddruk,” meld Patricia.

Sy betaal nou ’n voltydse huishulp om bedags na Willem om te sien terwyl sy werk. “Ek kan dit nie regtig bekostig nie, maar ek kan nie ophou werk nie, ek moet vir my kinders sorg.”
• Patricia het ook ’n ander seun.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button