Verstopte stormwaterpype in Nyallastraat skoongemaak
Die munisipaliteit het Maandag die pype onder die pad in Njalastraat, Dennesig, skoongemaak nadat dit deur bossies en rommel verstop was.
Die span van die munisipaliteit het Maandagmiddag ingespring en die waterpyp in onder Njalastraat wat verstop was met stukke takke, bossies en rommel skoongemaak. Omdat die pyp verstop was, het water elke keer oor die pad gestroom as dit reën.

Volgens rdl. Johann Dyason, is ’n span kort ná 14:00 ontbied om die verstopte pype te kom skoonmaak. Werkers het die digte plantegroei afgesny en ontbos, sodat die water weer onder die brug kon deurvloei.
Motoriste moes die afgelope tyd elke keer ompaaie ry as die water opgedam het op die pad as dit gereën het, veral ná Saterdag se swaar reën was dit baie erg.

Die munisipaliteit het bevestig dat die area nou skoon is en dat die watervloei weer normaal is.
Daar is egter steeds ’n slaggat in die pad wat herstel moet word. Volgens die munisipaliteit sal herstelwerk begin sodra die pad droog genoeg is om veilige bouwerk toe te laat.
“Gedurende hierdie nat seisoen bly dit ’n voortdurende uitdaging, maar spanne werk aanhoudend daaraan om kritieke punte oop en funksioneel te hou,” het rdl. Dyason gesê.
• Inwoners het hul waardering uitgespreek vir die munisipaliteit se vinnige optrede.

