News

Opinie: Enige spesiale Black Friday aanbiedinge op losskakels?

Baas Naas wil jy nie maar weer op Loftus kom skop nie?

Is daar nie enige spesiale Black Friday aanbiedinge op losskakels nie?
Enigiemand asseblief.
Die Blou Bulle soek dringend losskakels te koop.
Klaarblyklik het Pick&Player lankal hulle voorraad uitverkoop.
As julle dalk Baas Naas kan oortuig om weer sy stewels aan te trek sal dit ook help.
Oom Frik kan ook mos dropplace en score?
Al is hy nou 90 somers het hy Vrydagaand ewe flink gelyk by sy verjaardagpartytjie.
Nee Oom Frik is nie Saterdag met ’n gholfkarretjie op die veld gehelp nie, dit was Willem Strauss wat die karretjie nodig gehad het. (Grappie).
Maar wat van Morné Steyn?
Het hom by die registrasie van die RideJoburg fietswedren raakgeloop.’n Man wat 97 kilometer met ’n fiets kan kafdraf, kan mos weer rugby speel?
Boonop het hy dit in 3:10 gedoen. ’n Tyd wat enigeen oor kan droom.

Frik du Preex en Willem Strauss. FOTO: Verskaf.
Frik du Preex en Willem Strauss. FOTO: Verskaf.

Skuus, het vergeet Morné was nie goed genoeg vir Loftus nie en help nou die Leeus brul.
En het hulle nie Saterdag in Pretoria kom brul nie?
Johan Ackerman was skoon grootoog daar in sy afrigters hokkie.
En die man agter die gebrul is hoeka ’n oud HTS Middelburg leerling, Cash van Rooyen.
Praat van oorloop of verloop.
Terwyl die Bulle met ’n skrumskakel op losskakel gesukkel het, het die gewese Bulheld, Chris Smith, gewys hoe die spel gedikteer moet word.
Waar is die Noord-Transvaal generaals van ouds?
Waar is die jong losskakels wat van kleintyd hulle rugby op Loftus speel en dan verdwyn?
Wat het geword van die laaste kompie jare se presterende o/21 losskakels?
Tinus de Beer is grootgemaak vir hoër louere maar het uiteindelik uitgewyk na die Pumas.
Hy was die tweede Naas Botha wat nooit sy potensiaal in Pretoria uitgeleef het nie.
Bulle ondersteuners raak week na week al meer omgesukkel.

Voormalige Middelburg Observer redakteur Tobie van den Bergh saam Morné Steyn by die RideJoburg fietswedren se registrasie.
Voormalige Middelburg Observer redakteur Tobie van den Bergh saam met Morné Steyn by die RideJoburg fietswedren se registrasie.

Daardie eindstryd nederlaag teen die Glasgow Warriors maak nog seer en nou is dit ’n Leeuspan met komp onbekendes wat Bulle grappies laat posvat.
Wie doen die Bulle se aankope?
Fire hom!
Hy kan nie eers op Black Friday ’n winskopie raaksien nie.
Kon hy nie sien Boeta het geen BMT nie?
Chamberlain hoesstroop het meer skop as Boeta.
En nou is Boeta weg.
Johan Goosen is ’n lopende besering.
As Jaco van der Walt kouse was, sou jy hom kon terugvat winkel toe.
Hy was die swakste aankopie in jare.
Na een seisoen is hy nou sak en pak in Bloemfontein.
Keegan Johannes is nie ’n losskakel nie.
Hy het sy briljante oomblikke maar dit is dit.
Willie le Roux toor in die nommer 10 trui.
Maar saam met elke toertjie drink jy ’n Rennie.
Hy verskaf wonderlike oomblikke wat meestal gepaard gaan met sooibrand.
Daar word gewag vir Handré Pollard om terug te keer in ’n blou nommer tien trui.
Maar selfs Naas het die week gesê die goue seun is nie meer Handré nie, maar Sacha-Feinberg Mngomezulu.
Blou Bul ondersteuners is besig om al meer ongeduldig te raak.
Jy kan ’n vroue wenspan hê en jy kan spog met klub kampioene, maar as jy aanhou verloor, daar waar dit saak maak, gaan Loftus leegloop.
Hoor my lied.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button