Net voor die storm vir De Villiers gekom het
Theuns sing op reuse skerms sy treffer “Soos bloed”
Die musiek- en sportpromotor wat met die who’s who van die bedryf skouers gestuur het, maar dramaties tot ’n val gekom het, Wynand de Villiers, het al twee YouTube episodes uitgesaai, waarin hy alles vertel wat tot sy maatskappy se likwidasie gelei het.
De Villiers het alles verloor en moes ook uit sy huis trek in die Paarl waar hy al jare woon.
Inskrywingsgeld verloor
Verskeie plaaslike fietsryers is onder diegene wat hulle inskrywingsgeld verloor het, nadat wedrenne wat De Villiers sou aanbied, gekanselleer is.
Fietsryers wat aansoek gedoen het om hulle geld terug te kry, word begroet met ’n doodse stilte.
“Wanneer die stilte breek”
Die reeks bestaan uit 20 episodes wat hy “Wanneer die stilte breek” noem.
Dit is professioneel vervaardig en skop af met die Theuns Jordaan huldigingskonsert in Amsterdam.
Ironies begin die eerste episode met die liedjie “Net voor die storms kom”.
Sy kaartehuis het inmekaar getuimel
Na Amsterdam was De Villiers midde in ’n media storm waarin hy kunstenaars soos Bok van Blerk en Kurt Darren beskuldig het dat hulle hom “gyselaar” gehou het.
Daar is berig dat van die kunstenaars nie wou optree voordat hulle ten volle betaal is nie.
Daarna het sy kaartehuis inmekaar getuimel.
De Villiers sê hy het gedink die konsert gaan die hoogtepunt wees
“Dit is waar alles sou breek, dit was die waterskeiding gewees.
Gewone mense het ’n prys betaal
“Dit het begin met iets mooi om vir Theuns dankie te sê vir die spore wat hy getrap het.
“Ek het gevoel ons doen iets groter as die konsert.
“Agter die glans is daar gewone mense wat ’n prys betaal.
“Ons het ’n bedreiging geword vir die groter rolspelers in die musiekbedryf.”
Hy kap na Barry Pretorius wat bekend is vir sy Afrikaans Is Groot musiekkonserte en ook na die wyse waarop hy deur sekere mediagroepe hanteer is.
Soos bloed
Die tweede episode fokus op die Loftus Versfeld Theuns Jordaan huldigingskonsert met die titel “Theuns, Loftus legende waansin”.
De Villiers sê dit was ’n lekker episode om op te neem.
Daar is talle videos van Afrikaanse kunstenaars en die episode begin met Jordaan wat op groot skerms sing:
Soos bloed
So is jy vir my
Soos my
So ken jy vir my
Soos asem
Vloei jy dwarsdeur my
Soos tyd
So vlieg als verby…
Dit is kort, op die man af
Diegene wat belangstel wat agter die skerms gebeur in die Afrikaanse musiekbedryf sal aanklank vind by die programme.
Dit is kort, op die man af en verskaf heelwat detail oor die geweldige kostes om musiekkonserte aan te bied.
Fietsryers sal natuurlik die episodes met belangstelling dophou.
Gaan die man wat groot wedrenne soos Emperor’s en Groot Trap aangebied het, iets daaroor sê?
