Skok na oud Rooi Bul se afsterwe
'n Oudleerling van HTS Middelburg is Dinsdagmiddag by Hartbeespoort, waar hy gebly het, oorlede.
Vriende van Willie le Roux (49) is steeds geskok na sy skielike dood Dinsdagmiddag.
Willie het in 1995 aan HTS Middelburg gematrikuleer waar hy vir die Rooi Bulle uitgedraf het. Hy het nog gereeld die Rooi en Groen Derby in Middelburg bygewoon.
Die Le Roux familie het deur die jare erge trauma deurgegaan. Willie het sy broer, Theo, en beide ouers, Theo (snr) en ma Paula aan die dood afgestaan.
Theo jnr. was deel van die span wat desjare die Direkteurstrofee gewen het.
Sy lewensmaat, Cindy Sutherland, het dié boodskap op Facebook geplaas na sy afsterwe:
“My liefste Willie…
Woorde voel klein wanneer ’n hart so seer is, maar ek probeer, vir jou, vir ons.
Jy het mense se harte aangeraak sonder dat jy dit ooit self gesien het, met jou sagtheid, jou lag, jou goue manier van wees. Jou liefde vir ander, jou ongelooflike goeie hart, jy is ’n legend.
Jy het my wêreld ligter gemaak, net deur daarin te wees.
Ek sien dit nog so duidelik…die laaste oomblik voor ek werk toe is, jou soen, warm en passievol, die manier hoe jy altyd net gou my gesig vasgehou het.
En dan in ’n asem se tyd is jy weg.
My hart bly vra vrae waarvoor ek nooit antwoorde sal kry nie:
Hoe was jou laaste oomblikke?
Het jy bang gevoel?
Het jy na my wou roep?
Wat sou jy my wou sê?
Vrae vra?
Die seer van wat ek nooit kon weet nie, dra ek elke dag saam.
Maar dan kom oorrompel die mooi, en memories en die vrae.
Maar net so dra ek ook alles wat jy was:
jou hande wat my altyd veilig laat voel het,
jou stem wat altyd sagter geraak het wanneer jy met my gepraat het,
jou liefde wat my verander het.
En jou oneindige liefde vir jou liewe dogter
En jou liefde vir my kinders en jou kosbare vriende.
Willie, my lief…
totsiens vir nou,
maar nooit tot nooit.
Jy leef in ons almal se herinneringe,
in ons drome,
in die deel van my hart wat vir altyd joune bly.
So bitter lief vir jou my liefde, Willie.
En ek verlang vreeslik.”
Christell Spicer, sy eksvrou met wie hy steeds goed bevriend was, het Willie beskryf as iemand wat ander wou help en altyd gereed was met ’n grappie. By sy rugbyvriende was hy bekend as “Willie six weeks….”
Willie word oorleef deur sy lewensmaat, Cindy, dogter Mignon (19), broer Stephan, familie en vriende.
- Begrafnisreëlings is nog nie finaal gefinaliseer nie, maar die voorlopige beplanning is dat daar ’n roudiens volgende Donderdag (11 Desember) om 11:00 gehou sal word by Doxa in Harties.
