Middelburg-mamma, ‘Angel’ique – sterf ná dapper stryd
Die Middelburg-mamma, wat bykans ’n jaar teen ’n onbekende siekte gestry het, is Dinsdagaand, net voor middernag oorlede.

Middelburg-mamma, Angelique van Kraayenburg (40) het Dinsdagaand, na ’n moedige geveg teen ’n uitmergelende siekte, in die Steve Biko Hospitaal gesterf.

Haar familie beskryf haar as, “iemand met ’n oop hart, ’n sagte gees en ’n glimlag wat selfs in haar siekste dae nie verdwyn het nie.”
Angelique, ’n ma van vyf kinders en verloofde van Pieter Smith, is onverwags in die intensiewe-sorgeenheid van Steve Biko Akademiese Hospitaal oorlede.
Angelique het die afgelope jaar ’n opdraende stryd teen ’n ongediagnoseerde mediese toestand gevoer. Sy het aanhoudend verswak, tot haar liggaam uiteindelik nie meer die las kon dra nie.

Haar brose toestand, herhaalde infeksies, bloedklonte, kritieke bloedwaardes en respiratoriese komplikasies het haar in haar laaste weke binne die hoësorgeenheid gehou, waar sy onder sedasie gehou is.
Pieter het die afgelope paar maande honderde kilometers afgelê tussen Middelburg en Pretoria om by haar te wees. Die gesin het gesê dat sy, “tot die einde toe die wedloop voluit gehardloop het.” Haar ma, Elize Hattingh, en haar oom was by haar in haar sterwensoomblikke.
Angelique se familie het hartseer genoem dat haar mooiste eienskap haar oop hart was. Sy het altyd ander voor haarself gestel, selfs wanneer sy self min krag gehad het. “Haar glimlag… dit was iets besonders. Selfs toe sy bitter siek was, het sy steeds gelag op fotos,” sê haar vriendin, Claudia Atkins.
Angelique word oorleef deur haar ma, Elize Hattingh, pa, Johan de Jager, broers, Wynand de Jager en Jaco Hattingh, haar lewensmaat, Pieter Smit en kinders, Danelle, Danika, Jennifer, Amelia van Kraayenburg en Victoria Smith.
Angelique se wens was dat haar lewe ‘’n celebration’ moes wees, nie net ’n afskeid nie.
Die tentatiewe begrafnisreëlings is Donderdag, 11 Desember om 11:00 by die AGS Lighuis Kerk in Middelburg. Die diens sal opgeneem, en later op Facebook gelaai word vir almal wat wil kyk.
’n Hartseer maar, dankbare Claudia sê: “Sy het tot die einde glimlag, tot die einde gegee, en tot die einde geveg. Ons lewe is vir altyd anders – maar haar liefde bly.”
‘Angel’ique, sprei jou vlerke, vlieg hoog, jy is vry…

