Krugerdam se verhaal bring herinneringe van pa se verdrinking
Wie onthou nog? Die danse, die rondawels, die swembad?
Onthou julle nog Krugerdam?
Die lang glyplank waarmee jy tot binne die dam kon woerts?
Harry Knoesen se diskodanse Vrydagaande in die saal by die dam?
Die lekker swembad?
Die gewilde rondawels waar jy goedkoop kon bly?
Die eilandjie in die middel van die dam?

Onthou jy?
En toe onthou Sylvie Botha…onthou sy die dag toe haar pa in die dam verdrink het.
’n Inskrywing in die Middelburg Erfenisvereniging-groep waarin Theo Ligthelm die geskiedenis van Krugerdam beskryf, het die sluise van onthou behoorlik laat oopgaan.
Voor 1887 het Middelburg water uit fonteine en twee spruite gekry.
“Drinkwater is veral uit putte wat in agterplase gegrawe is bekom,” skryf Ligthelm.
Die ligging van die Klein Olifantsrivier het dit moeilik gemaak om water teen die helling na die dorp te gelei.
“In 1887 versoek die landdros die ZAR regering om ’n dam vir Middelburg te bou. Dit word goegekeur en 19 werkers word in diens geneem om die grond te verskuif en die damwal te bou.
“Grond is per ossewa aangery en met ’n os-damskrop opgewerk tot die wal. Die wal is met bakstene versterk.”
Die totale koste van die dam was 3700 pond of sowat R80 000. Die dam is op 20 Junie 1889 voltooi.

’n Piekniek en ontspanningsarea
Vanuit die dam is water met leivore en sluise in die verskillende woonerwe ingekeer vir tuinmaak.
“Veral die oorloop van die dam was ’n stuk ingenieursvernuf van die tyd.
“Vir baie jare was Krugerdam ’n piekniek en ontspanningsarea met ’n swembad en ’n area vir motor- en roeibote.
Volgens Ligthelm is die Alfred Robertsondam in 1928 gebou. Die dam het veral water aan die spoorweë vir die stoomlokomotiewe voorsien.
In 1930 is die Athlonedam net bo Krugerdam gebou wat water aan die watersuiweringswerke gelewer het.
(Inligting uit Green en Grundling).

Sylvie skryf:
“Die piekniek-area by Krugerdam was ons gesin se gunsteling plek. Ons het toe in Kogelstraat 5 gebly.
Op 15 Augustus 1969 het ons gesin saam met vriende daar gaan kuier.
“My pa het ’n roeibootjie gehuur en ons het almal ingeklim.
“Ons was agt mense.
“In die middel van die dam het ons vriende se se driejarige dogtertjie oorboord geval, my pa het ingeduik om haar uit te haal.
“Ons het hom nooit weer lewendig gesien nie.
“Die dogtertjie se pa het ook ingeduik en haar gered.
“Die volgende dag is ’n groot boot na die dam gebring om my pa se lyk te soek en uit te haal.”
Miskien is daar nog lesers met onthou oor Krugerdam.
Miskien het jy interessante foto’s.
Stuur dit na tobievandenbergh@gmail.com of WhatsApp na 072 220 1568.
