News

Die bos van oud rugbyspelers word uitgekap

Maans en Adri was twee van legendes op en van die veld af

Witbank Rugbyklub was soos ’n familie.
Suidoos-Transvaal legendes soos Brian Clarke, Robert Brandt, Flip Coetzer, Hans la Grange, Izak Potgieter, Hennie Kruger, Heinie de Lange en Pot Potgieter was betrokke by die administrasie van die klub.
Witbank het een van die sterkste derde en tweede spanne in die provinsie gehad wat gereeld met rekord tellings gewen het.
Op die speelveld het Richard Cooke, Daan Badenhorst, Boerpens Strydom, Vleis van Zyl, Bertus van Eeden, Hennie Coetzee, Martin van Eeden, Fanie Vermaak en Kat Smit naweek na naweek uithaler spel gelewer.

Na die eindfluitjie is daar verder hard gespeel

Maar wie sal ooit die tweede span vergeet met Hannes Joubert, Tommy Baird, Tonie van Tonder, Adri Prinsloo, Maans Bierman, Sieg Stander en Skip Scheepers?
Die tweedes het die eerstes gereeld in oefeninge opgedons, met kolonel Izak Potgieter wat skalks geglimlag het.
Daar is hard gespeel en na die eindfluitjie geblaas het, verder hard gespeel.

Mark toe vir lemoene

Saterdagoggende het ’n man in die dorp se strate op en af geloop met ’n bord om die nek om die wedstryde te adverteer. Die klok wat hy aanhoudend geswaai het was ’n groot aantrekkingskrag.
Saterdagoggend moes die klubsekretaris Witbank mark toe ry om lemoene te gaan koop by “Oom Flip”.

Mooi herinneringe

Rustyd is lemoenskyfies gesuig en die skille daarna netjies op ’n hopie gelos.
Vleuels het die bal by die lynstane ingegooi.
Maar dit was gewees.
Goeie tye.
Mooi herinneringe.
Lekker herinneringe.
En nou word die Witbank Rugbyklub bos uitgekap.

Black and white photo of two athletes in mid-action during a korfball game, with one holding the ball near a post. Background shows another person observing.
Maans Bierman op die korfbalbaan in aksie. FOTO: Verskaf.

Maans Bierman

Die afgelope week was dit Maans Bierman (81) en Adri Prinsloo (70). Maans was ’n tweede span staatmaker wat flank of slot gespeel het.
Hy is op 5 Desember aan orgaanversaking oorlede. Maans was ’n ambagsman by Eskom en het later jare geboer.
Hy het nie net op die rugbyveld uitgeblink nie, maar was ook Witbank se “Meneer Korfbal”.
Behalwe vir sy puik spel vir Suidoos-Transvaal het hy ook op administratiewe gebied groot hoogtes bereik in korfbal.
Sy afskeidsdiens is Donderdag, 11 Desember, uit die NG Kerk Witbank Suid (Trappies Kerk) om 11:00.

A cheerful man in a striped shirt laughs heartily, seated indoors. A vase of white flowers is in the foreground, adding a fresh, lively touch.
Adri Prinsloo. FOTO: Verskaf.

Adri Prinsloo

Adri Prinsloo is Vrydag aan ’n hartaanval oorlede.
Hy het sewe wedstryde vir Suidoos-Transvaal op loskop gesak vanaf 1985 tot 1989.
Saam met hom in daardie Suidoos span was: Roy Pretorius, Johan Bean, Gert la Grange, George Minnaar, Martin Glodeck, Deon Vermaak, Faf van Rooyen, Bertus van Eeden, Anton van der Merwe, Bertus Dreyer, Lukas Louw, Christo Dinkelman, Willie Strydom, Richard Cooke (kaptein), Adri Prinsloo.
Adri was ’n ware karakter en het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad.
Hy was die eienaar van Glasfit op eMalahleni.
Sy begrafnisdiens word op 12 Desember, om 14:00, uit die NG Kerk Panorama (Witbank) gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button