News

Die fees van sewe ongenooides gaan jou tussen die oë slaan!

Dit is beslis nie Jurie Els nie - eerder Jethro Tull in Afrikaans.

“Hemel en hel. ’n Fees van sewe ongenooides. Self-destruction. Skaakspeel met die dood in die wildernis en slawerny van verslawing. Vryspraak. Verlossing. Oorwinning. Hoop. My reis uit die diepste donker na die Lig. My stryd teen die onsigbare – alles opgesom in een prentjie!”

Stiaan Reynierse, alias Christian John, noem sy nuwe enkelsnit wat Vrydag vrygestel word ’n “klipharde krygerskreet van oorwinning in Afrikaanse rock!”

Hy het vir ons so voorsmakie gegee wat kom en wees verseker dit is nie Jurie Els nie, dit is eerder Jethro Tull in Afrikaans.

Dit slaan jou tussen die oë soos ’n Stroh Rum skopdop.

Die dop waarvan hy vandag, Woensdag 10 Desember 2025, al 365 dae ontslae is.

“Dis mý celebration van vryheid… Stiaan se storie…

’n Kinderfoto van Stiaan Reynierse.
’n Jong Stiaan Reynierse sou nooit sy suksesvolle sangloopbaar kon voorspel nie. Foto: Facebook

“Omdraai of opgee is géén opsie nie, ondanks die aanvalle wat meer intens en heavy persoonlik raak. Elke oggend breek met nuwe en meer genadelose uitdagings en teikens teen my rug.

Dis nié vir sissies nie. Maar ek stáán. Die beloning is groot wanneer jy kiés om die strikke te vermy. Die wippe moet ek steeds dummy en sidestep, maar ek dóén dit – iets waarvoor ek blind was in die verlede.”

Hy sê feitlik elke woord van die song is sterk en simbolies vasgegryp in die kunswerk.

“Die kettings waaruit ek moes losbreek om vry te kom uit die wildernis waarin ek verdwaal het; die kontras tussen lig en donker; die vlerke waarvan ek vergeet het.

“Die hel is honger… hongerder as wat jy dink. My spore het gelê op die rant van sy keel. Dié moes ek gaan haal. Ek het gestaan op die dryfsand van die dood.

Is ingesluk, fyngekou en uitgespoeg. Too close for comfort near the devil’s den…”.

Die liedjie se naam is “Sewe”, ’n baie simboliese getal.

“Gaan kyk maar. Die sewende dag word met rus geassosieer. Ek het rus gevind. Sewe maal sewe… nee, sewentig maal sewe… Nie net is sewe die volmaakte getal nie, maar as jou huis leegstaan, sal die vyand terugkom en sewe ander sal oorneem, om verder verwoesting te saai.

“Elkeen wat iemand ken of self geboei is in enige soort verslawing, móét hierdie hoor.
“Dit belowe ek jou!

“Daar ís hoop!”

Die liedjie is van vandag af op platoforms beskikbaar. 

Stiaan Reynierse.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button