En daar was lig, in Middelburg! Maar honderd jaar later brand die straatligte nie
Die afgelope paar maande is inwoners in rep en roer oor straatligte wat nie brand nie. Dit nadat Middelburg reeds meer as honderd jaar gelede elektrisiteit gekry het, om die waarheid te sê reeds in 1921.
Theo Ligthelm het die interessante geskiedenis nagevors en vertel onder andere van die lampe in die Witkerk en die ligte op Meijersbrug wat elke aand aangesteek moes word.
Hy skryf: Na Middelburg gestig is in 1864 is, het die dorp baie stadig ontwikkel. In 1866 het Theodore Rooth die dorp uitgemeet, en erwe en strate uitgemeet, maar teen 1867 beskryf Wangemann nog dat die dorp bestaan het uit net die hut waarin die “agent” woon en erwe verkoop.
Alhoewel Kimberley reeds in 1882 elektriese straatligte gehad het en Johannesburg in 1889, was daar nog geen elektriese krag in Middelburg nie.

Op foto’s uit die periode is daar wel lig installasies in sommige strate. Dit moes paraffien ligte gewees het, want karbied ligte is eers in 1900 ontwikkel. Daar bestaan geen rekord van gasinstallasies in Middelburg nie. Dit behels dat ‘n werker elke aand die individuele ligte moes aansteek en in die oggend of laatnag blus.
Interessant is die ligte op die hoeke van Meijerbrug. Die brug is in 1896 gebou en die ligte moes dus elke aand aangesteek gewees het om die brug met veiligheid te bereik en oor te steek. Huise het van paraffien ligte en kerse gebruik gemaak. Van hierdie ligte is baie indrukwekkende paraffien lampe met sierlike hang-kettings en skerms.

Die Witkerk het ʼn baie indrukwekkende stel paraffienlampe gehad. Hierdie lampe is ingevoer uit Duitsland en in die kerk gemonteer. Die massiewe kroon-kandelaar met 18 lampe, wat sentraal gehang het, moes met ‘n katrol uit die top van die dak laat sak word om paraffien in elke lamp te gooi en die koster moes dan die 44 lampe individueel aansteek en weer blus met elke geleentheid. Vir die predikant is twee lampe op die preekstoel gemonteer wat hoër en laer gestel kon word. Die vul en aansteek van al die lampe moes ‘n tydrowende taak gewees het.
In die sentrale dorp rondom Kerkplein (Rooth / Van Blerkplein en Markplein) was enkele straatlampe geplaas. Dit was moontlik dat individuele eienaars dit voorsien het voor hul geboue.

In 1900 beset die Britte Middelburg en ’n soeklig met ‘n koolstof-boog lamp met ‘n kragparaffien opwekker, word op Kanonkop geplaas wat oor die dorp gevee het om die aandklokreël toe te pas. Die soeklig kon die stasie area bereik vanaf Kanonkop! Vir die inwoners moes die massiewe lig ‘n besienswaardigheid gewees het. Alhoewel die Royal Engineers ‘n elektriese seksie gehad het, lyk dit uit foto’s nie of die Kantonnement-geboue van elektriese ligte voorsien was nie.
In 1910 word die Transvaal Power Act deur die Koloniale aangeneem en dit bring elektrisiteit in die Transvaal Kolonie onder staatsbeheer, met sekere riglyne en spannings voorskrifte. Dit is onduidelik of die voorskrifte wisselstroom of direkte stroom voorgeskryf het, maar dit was waarskynlik wisselstroom.

In 1921 kry Middelburg elektriese krag!
‘n Kragstasie is opgerig deur die munisipaliteit naby die Klein Olifantsrivier in ‘n oop area. Die kragopwekker is aangedryf deur ‘n stoomenjin wat ‘n dinamo gedryf het. Die plasing was waarskynlik gekoppel aan die beskikbare water, daar bestaan egter nie inligting of die water uit die rivier gebruik is en of water vanaf Krugerdam aangelê is nie. Die gebou is spesiaal vir die doel gebou en toegerus met ‘n skoorsteen vir die stoomketel.
Elektrisiteit is deur middel van oorhoofse “drade” (kabels) op pale met die middedorp verbind. Vanaf die pale is die krag met “drade” na die dak van ‘n gebou herlei en met porselein isoleerder van die dak geskei. Geen inligting bestaan oor spanning nie, maar dit was waarskynlik wisselstroom na die War of the Currents in die laat 1890’s.
Paraffien lampe in huise is vervang met ‘n gloeilamp wat aan ‘n lang draad van die plafon gehang het. Kragproppe was skaars en elektriese apparate soos die ou kortgolf fluitende radio’s is dikwels met ‘n “double adapter” aan die lig gekoppel.

Die kragstasie voorsien krag aan Middelburg vanaf 1921 tot 1929. In 1923 word die Nasionale Elektrisiteit Voorsiening Kommissie (EVKOM) gevorm en daar word begin om ‘n nasionale elektrisiteit netwerk te skep. ‘n EVKOM kragstasie word in Witbank gebou en in 1929 word twee kraglyne tussen Middelburg en Witbank gelê teen ‘n koste van £20 000.
Die dorp ontvang nou, in 2025, krag van EVKOM van Witbank teen slegs ¾ pennie per eenheid. Die kragstasie in Middelburg is gesluit en word afgetakel en die gebou word gebruik as werkswinkel vir die munisipaliteit.
Tans word dié gebou gebruik vir binnehuise sport…

