Talle Middelburgers het vandag nadat hulle gehoor het dat oom Tom Markram (90) oorlede is, gesê dat ”n groot boom in ons dorp geval het.’
Oom Tom is gisteraand omstreeks 21:45 in die Life Midmed Hospitaal oorlede.
Hy is ‘n paar jaar gelede met asbestose gediagnoseer, wat later in kanker omgesit het. Die laaste jaar en ‘n half was hy kort-kort in en uit die hospitaal vir behandeling.
Op sy 90ste verjaardag op 11 April vanjaar was hy weer in die hospitaal en het sy kinders, skoonkinders en kleinkinders almal saam met hom in die hospitaal hierdie spesiale dag gevier.

As ‘n mens terugdink aan oom Tom is dit sy altyd teenwoordige glimlag wat jou bybly. “Selfs al het ons geweet hy het pyn, het hy altyd met ‘n glimlag gesê dit gaan goed met hom,” onthou sy kinders.

Oom Tom was geliefd en gewild by die SAVF Tehuis waar hy die afgelope paar jaar gebly het. Almal onthou met ‘n glimlag hoe hy altyd op die perseel heen en weer gestap het om fiks te bly.
As sy kinders terugdink aan hul besondere pa, onthou hulle die saggeaarde man, “wat ons nooit geslaan het nie.” Sy liefdevolle, omgeehart sal hulle altyd koester.
Die Markram kinders het grootgeword op die plaas waar die Duva Kragstasie nou is. Nadat hulle weg is daar, het Tom en sy geliefde vrou, Minnie, die plaas Polfontein in die Kranspoort omgewing gekoop. Sy is in Februarie 1992 oorlede.
Oom Tom word oorleef deur sy kinders, Francois, Stefan en Christa, skoonkinders, vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders.
- Weens die vakansiedag vandag, sal hulle eers more met begrafnisreëlings kan begin.
