En hoor jy die magtige dreuning…
Duisende mense daag by honderde Geloftefeeste reg oor die land op
Die Gelofte
Hier staan ons voor heilige God van die hemel en die aarde
Om ’n gelofte aan Hom te doen
Dat as hy ons beskerm
En ons vyand in ons hand sal gee
Dat ons die dag en die datum elke jaar as’n dank dag
Soos ’n sabat sal deur bring
En dat ons ’n huis tot sy eer sal oprig
Waar dit Hom behaag
En dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daar in moet deel
Tot na-gedagtenis ook vir die opkomende geslagte…
Geloftedag was ’n heilige dag.
Meer heilig as ’n Sondag.
Met ontsag herdenk.
By laerskole is die Slag van Bloedrivier opgevoer met impi en Voortrekker.
Maar toe kom Versoeningsdag.
Geloftedag het verander in braai- en brandewyndag.
Getalle by feeste het gekwyn.
Geloftefeeshuise het tot niet gegaan.
Tot die jaar 2025.
Daar was Dinsdag ongekende oplewing in Geloftefeeste reg oor die land.
Geloftefeeste is ook in 12 ander lande herdenk.
Op plaaslike bodem was daar sowat 230 feeste.
’n Verstommende 40 000 mense het die terrein by die Voortrekker Monument volgepak.
Feesgangers wat die vlaghysing, kranslegging, perdesport en feesrede, by Uitkyk bygewoon het, sê dit was ’n emosionele belewenis waar groot mans die knop in hulle keel weggesluk het.

@middelburgobserver Geloftefeesvieringe op Uitkyk met die perdekommando wat die sprekers ontmoet het en die jongklomp wat die fees ingelyf het met boeresport. Video: Jana Boshoff.
Waar die Witkerk die laaste paar jaar leeg was, het die prentjie in 2025 dramaties verander.
Die kerk was stampvol. Prof. Gert Jordaan, vroeër van Noordwes-Universiteit, verantwoordelik vir Nuwe Testament en Grieks, ook betrokke by die 2020-Bybelvertaling, het die diens gelei.


Voorsitter van die Middelburg Erfenisvereniging, Rudi van Wyk, het die feesverrigtinge by Bloedrivier bygewoon, waar daar 1800 mense saamgetrek het. Kranse is gelê vir kinders en vroue wat gesterf het tydens die Groot Trek en ook vir die perdekommando’s, perde en mans, wat gesterf het in die Groot Trek.


Dat daar ’n herlewing onder Afrikaners is kan nie betwyfel word nie.
Hoor jy die magtige dreuning?
