Klein Niklaus bring ”n nuwe belofte’ vir gesin op Geloftedag
Op Geloftedag het 'n gesin 'n nuwe belofte gemaak met die geboorte van hul seuntjie.
Jacques en Lulu Stumpf het op Geloftedag hul eie belote gemaak om hul pasgebore seuntjie, Niklaus, in die Here se weë op te voed.
Klein Niklaus is op Geloftedag in die Life Midmed Hospitaal gebore. Die knapie het 2.7kg geweeg en is 50cm lank.
“Op 16 Desember 2025, ’n dag wat reeds diep gewortel is in geloof, belofte en geskiedenis, het ons lewens vir altyd verander. Met die eerste lig van Geloftedag het ’n nuwe belofte sy asem geskep toe ons seuntjie gebore is.”

As hulle terugdink aan die dag, “het die wêreld vir ons ’n oomblik stil geraak toe ons sy eerste huil hoor. In daardie klank was daar krag, hoop en ’n sagte herinnering dat God se tyd altyd volmaak is. Op ’n dag wat soveel mense verbind met geloof en oorwinning, het ons ons eie wonder ontvang – klein handjies, helder oë en ’n hart vol moontlikhede.”

Jacques en Lulu is diep gelowig en sê soos die geskiedenis van Geloftedag getuig van beloftes wat gehou is, “dra Niklaus se lewe die belofte van ’n toekoms vol liefde, geloof en lig. Hy is gebore op ’n dag van betekenis, en sy naam sal altyd gekoppel wees aan die dag toe ons harte groter geword het as ooit tevore.”
• Die egpaar het ook ‘n tienjarige dogtertjie, Mia, wat net so bly is oor die geboorte van haar bababoetie.

