Van Polokwane na die Kaap vir Badprop en vir Choc
’n Mooi storie wat hoop bring in ’n land waar dit soms bitter donker is
Al die pad van Polokwane na die Kaap.
Vir Badprop!
Maar ook vir Choc.
Vir kinders wat worstel met kanker.
Toe Andru van Zyl die ‘mal idee’ gekry het om met ’n fiets van sy tuisdorp, Polokwane, na Seepunt te ry, binne 22 dae, was dit vir Badprop.
Badprop, Mandré de Jager, is die junior leerling wat hierdie jaar by Afrikaans Hoër Seunskool met kanker gediagnoseer is waar Andru hoofseun was.
Maar toe word die ‘mal idee’ groter.
Nou trap hy in die kleure van Choc.
Choc staan vir Childhood Cancer Foundation.
Maar die groot trap is na ’n paar honderd kilometer nie meer net oor kanker nie.
Dit het ’n tog van hoop geword.
Een van deernis.
Omgee.
Liefde.
Goedheid…
…en guns…
Dit het ’n verhaal geword van lig in ’n land waar dit soms bitter donker kan wees.
Langs die pad het inwoners van Groblersdal tot Middelburg, Bethal en Standerton, hulle harte wawyd oop gemaak.
Maar die goedheid en guns het eintlik voor die wegspring by Andru se ouerhuis in Polokwane begin.
Steyn du Plessis van Oil Solutions SA het gesorg dat daar diesel is, ’n karavaan, drywer en voertuig om saam te ry.
En toe klim hy en sy seun Joshua sommer self op die fiets en ry saam.
Die elfjarige Joshua, van Laerskool Witpoort, het geharde fietsryers verstom toe hy Kranspoort Donderdag met sy bergfiets uitgery het.
Die pa en seun trap saam tot in Clarence.

Op Middelburg het Gerhard en Lana Smith hulle huis in Aerorand oopgemaak vir die groep om te oornag.
Die jong Herman Grobler van Hoërskool Middelburg en veteraan ysterman, Cobus Fourie, het die geselskap vir twee dae vergesel.
Donderdag het hulle 90km na Marulani Kloof en terug na Middelburg getrap en Vrydag 80km uit op die Bethalpad.
Van Andru se skoolmaats, waaronder die Affies heelagter van hierdie jaar, Lamond Baaidjies, het tot in Middelburg saam getrap.
Op die roete het verskeie ander fietsryers by die groep aangesluit.
Mandré se pa, Pieter, het ook Vrydag saam getrap, maar hy was self te siek om op ’n fiets te klim.
In ’n aangrypende gebaar het ’n negejarige dogtertjie, wat op eenjarige ouderdom met kanker gediagnoseer is, Andru in Standerton met ’n teddiebeertjie ingewag.
En wie sal ooit vergeet hoe het die groep boere van Broodsnyersplaas Boerevereniging Andru met R28 000, worsbroodjies en yskoue koeldrank ingewag?
Maar die trap gaan voort.
Gister het hulle op Standerton aangekom.
Ironies was die tog vandag na Vrede.
En dan is dit:
22 Desember Harrismith.
23 Desember Clarence.
Op Kersdag na Fouriesburg.
26 Desember na Ficksburg.
27 Desember Ladybrand.
28 Desember na Maseru.
29 Desember Wepener.
30 Desember Smithfield.
31 Desember Bethulie waar kolonel Anton Crafford woon wat self saam met vriende van die Vrystaat na die Kaap gestap het vir kankerpasiënte.
Nuwejaarsdag is dit Colesberg.
3 Januarie Middelburg Kaap.
4 Januraie Nieu Bethesda.
5 Januarie Graaff-Reinet.
6 Januarie Jansenville.
7 Januarie Dorschfontein.
8 Januarie Bucklands.
9 Januarie Patensie.
10 Januarie Jeffreysbaai.
12 Januarie Stormsrivier.
13 Januarie Plettenbergbaai.
14 Januarie Sedgefield.
15 Januarie Mosselbaai.
16 Januarie Stilbaai.
17 Januarie Riversdal.
18 Januarie Swellendam.
19 Januarie Montagu.
20 Januarie Worcester.
21 Januarie Paarl.
22 Januarie Seepunt…
En nou is ek moeg getik, wat nog te sê om so ver te trap?
@middelburgobserver Tog van Polokwane na die Kaap bring goedheid en guns. Video: Tobie van den Bergh. AndruVanZyl, Affies, CHOC, MiddelburgCycling, MiddelburgFietsryklub, MiddelburgObserver
