Groen gordel? Watter groen gordel? Vra Middelburg se inwoners
Iemand het duisende rande in die sak gesteek deur plantasies te vernietig.
Die statige ou dennebome wat niemand langs Verdoornstraat gepla het nie, lê nou eensaam daar langs die pad.
Onnodig afgesaag.
Dit is drie weke later en die Steve Tshwete Munisipaliteit swyg soos die graf oor die afsaag van die bome. Vrae soos of daar ’n studie gedoen is om te bepaal of die bome afgesaag moet word, wie het die studie gedoen, en wie is die kontrakteur, is onbeantwoord.
Die vraag is waarom het die Steve Tshwete Munisipaliteit ’n betaalde kommunikasie departement as hulle nie op enige vrae reageer nie?

Na die bome afgesaag is, het inwoners met woede reageer. Intussen het mense wat in Verdoornstraat woon ook na vore gekom met klagtes. Die bome is afgesaag met die verskoning dat hulle “vrot is en omval”. Wat bnie waar is nie. Daar is ook gesê dat die gedeelte ’n “groen gordel” is en dat daar in die plek van die dennebome nou inheemse bome geplant gaan word.
Nou vra Verdoornstraat inwoners “watter groen gordel?” Waar die sogenaamde groen gordel is, wat versier moet word met bome, is daar ’n muur met ou ongebruikte vragmotor bande gebou. Die onooglike bande staan binne die “groen gordel”.

“Ons het al soveel keer daaroor gekla, maar ons klagtes val op dowe ore. Die munisipaliteit steur hulle nie aan ons nie,” het ’n inwoner gesê wat verkies om anoniem te bly. Daar is ook gekla oor ’n koswaentjie aan die oorkant van Verdoornstraat. “Het hierdie infromele smous ooit ’n lisensie om daar handel te dryf?” word gevra.
Met die denneplantasie wat afgesaag is, kyk inwoners nou direk op die klein industrieë aan die oorkant van die pad. Dit is duidelik dat iemand der duisende rande in die sak steek, met die vernietiging van die Verdoornstraat en ook die Dennesig denne plantasies.
Francois Bekker wat al vir jare bome op die dorp afsaag, sê die dennestompe se waarde is sowat R2000 per boom. “Iemand maak geld,” sê hy. Honderde duisende rande is betrokke. Wat skokkend is, is dat daar aan raadslid Johan Dyason van Dennesig gesê is dat die munisipaliteit nie die toerusting het om die afgesaagde bome, wat langs die N11 lê, te verwyder nie.

Skouers word opgetrek oor die verwydering van die bome. Daardie bome behoort aan die inwoners. Dit is belastingbetalers se geld wat die Parke Departement nou sê sommer net gevat kan word. Der duisende rande wat na die munisipale geldkas, wat reeds leeg is, kan gaan.
Dit kan mos nie sommer net verniet weggegee en weggedra word nie? Teen R2000 ’n boom?
Die bome het gerol. Nou moet koppe rol…
@middelburgobserver Groen gordel? Watter groen gordel? Vra Middelburg se inwoners Iemand het duisende rande in die sak gesteek deur plantasies te vernietig. Lees meer: MiddelburgObserver Middelburg Mpumalanga #stevetshwetelocalmunicipality
