Bennie bring die Middelburg-gemeenskap se beste na vore
‘n Hartroerende dankie-boodskap ná die verlies van Bennie, ’n geliefde Cocker Spaniel, wys hoe die Middelburg se gemeenskap saamstaan met empatie, gebed en onbaatsugtige ondersteuning.
’n Hartroerende boodskap van ’n plaaslike inwoner het hierdie week die ware gees van gemeenskap en medemenslikheid in Middelburg uitgelig.
Willemien van Tonder moes onlangs afskeid neem van haar geliefde Cocker Spaniel, Benjamin – beter bekend as Bennie – nadat hy op 26 Desember uit hul erf ontsnap en vermis geraak het.

Wat as ’n angstige soektog begin het, het spoedig tot ’n oorweldigende stroom van ondersteuning uit die gemeenskap gegroei. Volgens Willemien het die Verlore Diere Middelburg-WhatsAppgroep feitlik onophoudelik geserkuleer, met inwoners wat gehelp soek, inligting gedeel en gebede gestuur het.
Bennie is die volgende oggend, 27 Desember, kort ná 08:00, by die hoek naby die SAVF tehuis gevind. Ongelukkig is die geliefde vierpoot doodgery.
“Ek het nog nooit soveel ondersteuning beleef nie,” het Willemien gesê.
Boodskappe van bemoediging, empatie en geloof het bly instroom, sèlfs tydens haar donkerste oomblikke.
In ’n emosionele plasing op sosiale media, het sy haar laaste afskeid van Bennie gedeel – ’n hond, nee, ‘n kind, wat vir meer as tien jaar haar getroue metgesel en konstante skadu was.

“Jou blaf is stil, maar jou voetstappies leef voort in my hart,” skryf sy.
Sy het haar opregte dank uitgespreek teenoor Danel Botha, Deidre Grobler Cloete en haar dogter McKyla. Sy bedank òòk die verskeie Middelburg-dieregroepe en elke liewe inwoner wat gehelp, gedeel of ’n boodskap van simpatie gestuur het.
“Dankie, Middelburg…” het sy dankbaar afgesluit.

