Middelburg Erfenis Reeks 5: ‘Hands-Up!’ – toe val Volksraadslid se broek af!
Lees dié eienaardige, maar ware verhaal van Volksraadslid Hendrik Johannes Boshoff wie se broek afgeval het!
Hendrik Johannes Boshoff (1855-1915) was die Volksraadslid vir Middelburg in die Volksraad van die Zuid-Afrikaanse Republiek voor die Anglo-Boereoorlog. Hy was ’n boer en die eienaar van die Masonic Hotel, op Erf 520 reg oorkant die stasie.
Hy woon vlak by die hotel op die rand van die dorp. Die hotel is waarskynlik ongeveer 1894 opgerig om gaste wat per trein reis, te akkommodeer. Die sierlike dubbelverdieping gebou het volgens rekords 10 kamers gehad, elk met ’n bed en binneveer matras (’n luukse vir die tyd) en ’n wastafel met ‘n wasskottel en beker. Die eetsaal, kroeg en biljartkamer was met muurpapier geplak – tipies van die laat Victoriaanse tyd.

Die oorlog breek uit en Boshoff gee oor
Ongelukkig was Hendrik nie baie veglustig nie en het rustig in die dorp gebly met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Op 27 Julie 1900 beset die Britse magte Middelburg en Hendrik gee dadelik oor en lê die Eed van Neutraliteit af en word deur die Britte geklassifiseer as ’n Protected Burgher.

Die Britte kommandeer die Masonic Hotel op vir akkommodasie vir die personeel van die Imperial Railways. Hendrik en sy gesin bly woon rustig as Protected tydens die besetting.
Oujaarsdag 1901, Hindon se skelm besoek
Op Oujaarsdag 1901 is die Hindon-Verkenners in die omgewing van Middelburg. Kaptein Jack Hindon besluit om die besette dorp te verken en saam met Luitenant van Rensburg, Gert Scheepers, Jan Claassen en Schalk van der Merwe ry hulle na die dorp.
Op Kanonkop was ’n soeklig op die blokhuis gemonteer, wat vanaf sononder aanhoudend oor die dorp gevee het as deel van die aandklokreël. Hulle ry die dorp binne van agter die blokhuis en wagte stellings en elke keer as die lig aankom draai hulle hul perde om sodat hul oë nie in die lig weerkaats nie. So bereik hulle die huis van Hendrik Boshoff, voormalige Volksraadslid, “wat nie kans gesien het om die oorlog verder as die dorp mee te maak nie!”
Hindon klop aan, en ’n broek glip af
Hulle versteek hul perde onder die bome by sy huis en Hindon klop hard met sy rysweep-knop aan die voordeur. Hy vereis toegang “in die naam van die Republiek”. Op navraag van binne antwoord hy dat hy daar is op soek na spioene!

Stadig word die deur oopgemaak, Hendrik verskyn met verskeie vroue agter hom – “Hands-up!” beveel Hindon. Hulle stap binne terwyl die ou landsvader sy hande hemelwaarts hou.
In sy haas om uit die bed te kom het Hendrik sy pantalons (nagkabaai) vinnig aangepluk sonder kruisbande. Met sy hande in die lug begin die pajamabroek nou stadig afsak. Hy sprei sy bene al weier in ’n poging om die broek bo te hou, maar met die Mausers op hom gerig durf hy nie sy hande laat sak om die broek te red nie. Hy staan naderhand heeltemal wydsbeen, maar die broek sak af!
Lag, verleentheid en ’n goeie onthaal agter ‘vyandelike linies’
Dit is een te veel vir die Verkenners en hulle bars uit van die lag oor die ou vader se verleentheid – Volksraadslid met sy hande in die lug en ‘n pajamabroek om sy enkels en ’’kaal agterstewe – voor al die dames in die huis!
Gelukkig stel Hindon hom bekend en die Volksraadslid kan sy waardigheid herstel! Hindon beskryf hoe hulle deur die Protected Burgher en gesin agter vyandelike lyne op die Oujaarsdagaand rojaal onthaal is, voor hulle teruggekeer het na die veld.

Na die oorlog, geld geëis vir skade
Boshoff eis na die Oorlog kompensasie van die Britte vir die skade aangerig aan die hotel ter waarde van £447 – die Compensation Board keur slegs £251 goed. Hy eis ondermeer vir skade aan die balkon deur die gewig van die sandsakke en verlore meubels en linne uit die hotel – die Britte was nie sulke gentlemen soos ons almal dink nie!
Die hotel word hierna hernoem tot die Grand Hotel en is in die 1950’s gesloop.
Hendrik Boshoff sterf in 1915 op die plaas Boskrans naby Bethal.
