News

Biblioteek afgebrand, foto’s weggegooi, boeke versnipper…

Wanneer jy verdwyn in die wêreld van Heinz Konsalik, Tank en Trompie is leesstof iets heiligs.

Sal die persoon wat die laaste biblioteek in Suid-Afrika sluit, asseblief net die ligte afsit.

Waarom het ons nog biblioteke nodig?
Sluit die deure!
Verbrand die boeke!
Of soos hulle op Middelburg gemaak het, versnipper hulle.

Het die afgelope paar maande agtergekom dat my geliefde speelplek, nie meer plek het in die mensdom se leefwêreld nie.

Het as kind in die Witbank Biblioteek geboer. Verdwyn in die wêreld van Trompie, Saartjie, Heinz Konsalik en die Bevryding van Voetsoldaat Steiner. Daar geleer hoe om te boks, tafeltennis te speel, enigiets onder die son.

Boeke was kennis.

Het my in die kamer toegesluit en gelees, lees, lees…
Totdat Ma by die deur ingeloer het met: “Ag nee man, gaan speel bietjie buite”.
Het geantwoord: “Maar ek lees”.

’n Boekwinkel het ’n bekoring wat al die elemente van menswees vasvang. En die Kaapse boekwinkels met hulle mufreuk aktiveer die endorfine in jou brein. Het hierdie week Mall toe gery net om in ’n boekwinkel rond te loop. Aan die boeke te vat, elkeen met liefde geskryf.

Die titels gelees, elkeen met ’n betekenis. Die inhoud wat verryk.

Toe dr Kobus Terblanche ’n paar jaar gelede aan die einde van die jaar vir my die boek “Roepman” van Jan van Tonder as geskenk gee, was dit die dag voordat ons see toe gery het. Kon hom nie neersit nie. Die familie het later gepleit “kom swem asseblief”.

Kon nie, die Roepman moes klaar.

Verlede jaar het adjudant Lappies Labuschagne “Tank” deur Pieter Stoffberg by die kantoor aangebring. Was na die eerste bladsy vasgevang.

Dit is soos ’n dwelm. Die volgende dag is hy klaar gelees.

Nou bel ’n inwoner verlede week en vra “wil jy nie ’n stel wêreldspektrum boeke hê nie?” Die tweede stel wat iemand weggee.

Het die eerste stel met groot opgewondenheid by die kleinkinders gaan aflaai. Hulle het my verbaas aangekyk: “Oupa dit is verouderde inligting, ons gebruik nou Google”.

boeke, biblioteek, sa, middelburg, middelburg observer
Carmia Jansen van Vuuren by ‘n stalletjie waar ou boeke verkoop word. Foto: Verskaf.

Die afgelope week vertel mense hoeveel boeke het hulle al op die stortingsterrein gaan weggooi. “Wat moet ons daarmee maak?” Daar is al vragte boeke by my huis afgelaai. Om ’n boek op ’n stortingsterrein weg te gooi, is soos om jou kind by die kinderhuis af te laai.

Die pynigendste gedagte is oor die vragte boeke wat ’n paar jaar gelede by die Middelburg Biblioteek weggery is om versnipper te word. Geskiedkundige boeke, selfs van ’n vorige eeu.

Maar wat vir een van waarde is, is betekenisloos vir ’n ander.

Tydens onluste in die negetigerjare was een van die eerste geboue wat afgebrand is, Nasaret se biblioteek. Nadat die nuwe bedeling in 1994 in werking getree het, is al die foto’s wat in die portaal by die raadsaal gehang het verwyder.

Toe die Middelburg Observer daaroor probeer uitvind, is gesê “dit word in die biblioteek bewaar”.

Verlede week word ons ingelig al daardie geskiedkundige foto¦s van ons dorp en sy stadsvaders is weggegooi. Toe Ria Joubert voor haar afsterwe gaan navraag doen is aan haar gesê “die foto’s is waardeloos en dit is weggesmyt”.

Met Kunsmatige Intelligensie wat vir ons loer, Google waar jy al jou kennis kry en ’n geslag wat nie meer lees nie, wat gaan van boeke word?

Wat gaan van biblioteke word?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button