News

Die bomklappers gaan klap en die vuurpyle gaan vuur

Troeteldiereienaars moet hulle staal vir ’n klein oorloggie.

Maak reg vir ’n klein oorloggie!

Ondanks waarskuwings dat die afvuur van vuurwerke onwettig is, staan mense tou by handelaars wat van vuurpyle tot reuse bomklappers verkoop.

Handelaars in Eastdene, wat dienste lewer, is besig om hulle beursies te vul met die verkoop van vuurwerke. Selfs ’n kleremaker se rakke is gepak met vuurwerke en mense staan in ’n lang tou om aankope te doen.

Daar is geen wetstoepassing om toe te sien dat dit wettig verkoop word nie. Die dorp se strate wemel ook van inwoners met hande en sakke vol vuurwerke.

Een ding is duidelik; geen waarskuwing of dreigement gaan die vuurwerk-oorlog keer nie.

In die verlede was Mhluzi se vuurwerke vanaf die N11, by Dennesig, duidelik sigbaar. Foto: Verskaf.

Troeteldiere het gisteraand al verskrik rondgehardloop, toe die eerste skote in Mhluzi geklap het. Die enigste oplossing is om vroegtydig voorsorg te tref en troeteldiere veilig te hou.

Indien jy ’n hond het wat buite slaap, gaan hy vanaand beserker raak, want volgens die aankope wat die Middelburg Oberver gesien het, is dit vuurpyle en bomklappers wat die Amerikanse weermag sal jaloers maak. ’n Paar jaar gelede het ’n hond in Gholfsig so bevrees geraak met die aanhoudende geskiet van klappers, dat hy deur ’n hek probeer beur en homself opgehang het.

Die B-veld by die Kees Taljaard Stadion word ook tans gereed gemaak vir die oud Pirates sokkerkaptein, Happy Jele, se konsert more. Inwoners van Kanonkop kan maar hulle oorpluisies gereed hou. Veiligheidsgroepe gons met inwoners wat kla, maar die gekla val op dowe ore.

Daar gaan vanaand klappers geskiet word, en niemand gaan dit keer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button