News

Dogter sterf aan hart twee weke na pa oorlede is

Raadslid loof haar toewyding en goedhartigheid teenoor die gemeenskap.

Net voor Kranspoortpas, rigting Groblersdal, aan die regterkant, is die plaas Polfontein.

Dit is daar waar Minnie Markram in Februarie 1992 deur ’n perdeby gesteek is. Sy was erg allergies en is binne oomblikke oorlede.

Haar man, Tom, het op Polfontein voortgeboer en ’n geliefde inwoner van die omgewing geword. Hy en sy dogter, Christa, het sedert sy vrou se afsterwe die laaste 26 jaar ’n noue band gevorm. Sy is nooit getroud nie en haar twee broers, Stefan en Francois, se kinders was ook soos haar eie kleinkinders.

Net soos haar pa het Christa ’n warm persoonlikheid gehad wat mense na haar aangetrek het. “Oom Tom” soos hy bekend was, het nadat hy Polfontein verkoop het, ’n inwoner van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie se ouetehuis geword. Hy was daar net so geliefd met sy helder brein en wye algemene kennis.

Op 15 Desember 2025, nadat hy sy 90ste verjaardag op 11 April gevier het, is hy in die Life Midmed Hospitaal oorlede. ’n Foto waar hy omring is deur sy kinders en kleinkinders, het op die Middelburg Observer se webblad verskyn.

Nou is sy geliefde dogter, Christa (59), net twee weke na haar pa se afsterwe, gister, 31 Desember 2025, aan ’n hartaanval oorlede, by haar woonstel in Dennesig. Christa het by die administratiewe afdeling van Sofunda skool in Mhluzi gewerk. Sy was aktief in die gemeenskap betrokke en was wyksvoorsitter van die DA se Wyk 14.

Raadslid Elsie Vermooten het in ’n kort boodskap gesê “Christa was ’n waardevolle lid van die gemeenskap. Jy is te vroeg van ons af weggeneem. Jou toewyding, goedhartigheid en diens het vele lewens aangeraak. Mag jy in vrede rus en mag jou geliefdes vertroosting vind in hierdie moeilike tyd.”

Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
*Die Markram kinders het grootgeword op die plaas waar die Duvha Kragstasie vandag is.

Die Markram familie op oom Tom se 90ste verjaardag verlede jaar wat hulle saam met hom in die Life Midmed Hospitaal gevier het. Christa wat gister oorlede is aan ’n hartaanval, staan heel regs. Thomas (kleinseun), Stefan John (agterkleinseun), Tom, Jani, Peter Thomas (agterkleinseun), Antoinetté (skoondogter), James (agterkleinseun). Tweede ry: Janine (kleindogter), Melanie (kleindogter), Annalie (skoondogter), Christa (dogter), Hernu. Derde ry: Stefan (seun), Francois (seun), Chrizanne (kleindogter), Zalze (agterkleindogter), Mieka (agterkleindogter) en Henrie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button