News

KYK: Verwoesting wys storm wat plase tref was beslis ’n tornado

Die maksimum windspoed in ’n tornado is tussen 120 en 360 km/h, maar kan selfs sterker as 432 km/h wees

’n Dik staal pilaar is gebuig, sinkplate is 500m ver gewaai en dakteëls is soos stukkies papier opgefrommel, toe ’n vernietigende wind plase op die Stoffbergpad getref het.
Alhoewel daar in sommige kringe getwyfel word of die skade deur ’n tornado veroorsaak is, wys die verwoesting dat dit nie net ’n ligte wind was nie – maar beslis ’n tornado.
Videos van die storm wys ook ’n tipiese tregter soos wat in tornado’s voorkom.
Die plaas van die oud Suidoos-Transvaal haker, Abrie van Wyk, het veral deurgeloop.

Dit kan verskillende vorms aanneem

Weather SA sê ’n tornado is ’n hewige, roterende of draaiende storm met ’n klein deursnee en is die mees verwoestende van alle weerverskynsels.
“’n Tornado is ’n weerverskynsel wat uit donderstorms ontwikkel, veral dié wat met hael gepaardgaan. Kundiges het steeds verskillende menings oor presies hoe ’n tornado ontwikkel, maar stem meestal saam dat dit te make het met vertikale draaibewegings, wat reeds in die wolk teenwoordig is en net toeneem. Daarom ontwikkel ’n tornado binne ’n wolk en beweeg dit as ’n tregtertipe verskynsel vanaf die wolk na die aarde. Dit kan verskillende vorms aanneem en soms lyk dit soos ’n dun, smal tregter, of soos ’n silinder, of selfs soos ’n stuk tou, wat vanaf die onderkant van die wolk na die aarde afhang. Die sigbare tregter bestaan hoofsaaklik uit waterdruppels, wat weens kondensasie in die tregter vorm.”
’n Sterk warrelwind kom gewoonlik naby die grond voor waar stof, blare en ander los materiaal opgeraap word. Die deursnee van die tregter is gemiddeld minder as ’n paar honderd meter, maar sommige tornado’s is groter, met ’n deursnee van meer as een kilometer. Gewoonlik raak die punt van die tregter die aarde slegs vir ’n paar sekondes soos in die Stoffbergpad-video gesien kan word.

Kan selfs sterker as 432 km/h wees

Daar daar was volgens SA Weather al gevalle waar dit vir langer as ’n uur op die oppervlak gebly het. Die maksimum windspoed in ’n tornado is gewoonlik tussen 120 en 360 km/h, maar kan selfs sterker as 432 km/h wees.
Die verskil in druk tussen die binne- en buitekant van die tornado is ook deels verantwoordelik vir skade wat aangerig word, veral aan geboue waarvan die vensters en deure toe is.
’n Interessante aspek van tornado’s is die harde, kenmerkende geluid wat dit maak soos wat Middelburgers beleef het toe ’n tornado die dorp getref het die dag na die Covid-inperking. Mense wat dit al gehoor het, het dit beskryf as die klank van “’n duisend treine” of die “gedruis van straalvliegtuie of helikopters”.

Wenke wanneer ’n tornado op pad is, is:

• As jy ’n tornado sien, beweeg na ’n veilige gebou wat vooraf vir die doel aangewys is, of beweeg na die middel van jou huis en skuil onder ’n stewige meubelstuk, soos ’n tafel.
• Verlaat enige voertuig, woonwa of mobiele huis omdat hulle kan rondbeweeg, omslaan en selfs vernietig kan word deur sterk wind en materiaal wat rondgewaai word.
• Bly weg van vensters af, aangesien stukke glas en materiaal wat rondgewaai word, die meeste sterftes veroorsaak.
• Moenie probeer om met jou voertuig van ’n tornado af weg te jaag nie. Verlaat die voertuig onmiddellik en soek skuiling.
• As jy in die buitelug oorval word, lê plat in ’n sloot of holte, maar wees versigtig vir oorstromings as dit baie hard reën.

’n Video, wat geneem is deur Armand Schutte, wys ’n gedeelte van die tornado toe dit deur die plase geklief het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button