Pa en dogter wat plaasaanval oorleef sterf weke na mekaar
"Jy is ’n ou man waarom veg jy so" snou rower sy bejaarde slagoffer toe.
Saam het hulle ’n plaasaanval oorleef.
En nou het pa en dogter net twee weke na mekaar gesterf.
In Oktober verlede jaar, sewe jaar gelede, is “Oom Tom” Markram, soos hy bekend was, op sy plaas, Polfontein, aangeval.
Hy is van die kerk se kollektegeld, selfone en juwele beroof.
“Hulle het vir my gesê: ‘jy is ’n ou man, hoekom veg jy so?’ maar ek het vir lewe en dood geveg,” het hy destyds aan Daleen Naude vertel.
Hy het vroegoggend die diens by Kranspoort Kerk op die Loskopdampad, 45 kilometer uit Middelburg bygewoon en het kollektegeld opgeneem.
Omstreeks 09:45 was hy en sy dogter, Christa, terug op die plaas.
Hy het die bakkie onder ’n afdak parkeer en Christa is by die huis in.
Hy het probeer terugbaklei
“Ek het nog met die sleutel in my hand gestaan, toe hulle op my afstorm van waar hulle agter die muur weggekruip het. Die een het my met die plat kant van die panga oor my kop geslaan.”
Die pangaman het nog ’n keer na Oom Tom gekap, waarop hy met sy regterhand gekeer en sy hand beseer is.
’n Ander rower het hom beetgekry, sy hemp van hom afgeskeur en ’n tou om sy regterarm vasgemaak en hom begin rondpluk.
Hy het probeer terugbaklei, maar hulle het hom kort-kort van balans af gepluk en hom weer met die panga gekap.
Hulle was woedend
Die aanvallers, wat almal klapmusse en handskoene gedra het, het aanmekaar gevra waar is die kluis en gesê hulle wil “die 9mm” en geld hê. Oom Tom het gesê dat hy nie wapens het nie.
Christa is ook in die huis oorval en met die platkant van die panga oor die kop en skouers geslaan. Sy is na haar kamer geboender, waar hulle haar hande en voete met nylontou vasgebind het.
Oom Tom is gedwing om vir die aanvallers ’n kluis oop te maak en hulle was woedend toe hulle nie kontant of wapens kry nie.
Een van hulle het sy sakke deursoek en die kollektegeld, ’n bedrag van R1 720, gekry.
Die rowers het net ’n paar waardevolle juwele uitgesoek en die res gelos.
Daarna het hulle Oom Tom se hande en voete vasgemaak en hom vasgebind aan sy Gymtrim-oefenapparaat in sy kamer.
Vir hulp geroep
Hy het die hele tyd wat hulle hom rondgeruk het, sy hand begin loswoel en kort nadat hulle weg is, het hy sy een hand uitgekry en homself bevry.
Nadat hy ook vir Christa bevry het, het hy oor die radio vir hulp geroep.
Oom Tom het steke aan sy hand, oor en kop gekry, waar hy met die panga gekap is.
Beide pa en dogter is dieselfde dag uit die hospitaal ontslaan.
Hy het hierna die plaas verkoop en ’n inwoner van die SAVF Ouetehuis geword.
Pa en dogter was onafskeidbaar
En nou het pa en dogter net twee weke uitmekaar gesterf.
Oom Tom (90) is na ’n lang siekbed op 15 Desember 2025 in die Life Midmed Hospitaal oorlede en Christa (59) op 31 Desember 2025 aan ’n hartaanval, by haar woonstel in Dennesig.
Christa het by die administratiewe kantoor van Sofunda skool gewerk en was ook voorsitter van die DA se Wyk 14.
Pa en dogter was onafskeidbaar, nadat Oom Tom se vrou, Minnie, in Februarie 1992 oorlede is, nadat ’n perdeby haar op Polfontein gesteek het. Sy was hoogs allergies vir ’n perdebysteek.
*Christa se begrafnisreëlings sal later vandag op die Middelburg Observer se webblad gepubliseer word.
