Polisie het land in rep in roer oor Willem Kruger
Na persverklaring oor ‘skokkende ontdekking’ swyg hulle nou.
Die Suid-Afrikaanse Polisie het die land in rep en roer gehad oor ‘skokkende inligting’ waarop hulle afgekom het, in die ondersoek na die jong Groblersdalse boer, Willem Kruger, se dood.
Dit meer as enigiets anders, het mense laat glo daar is iets sinistêrs aan sy verdwyning op 13 November 2022 en uiteindelike opspoor van sy bakkie en liggaam in die Vaalrivier op 22 November.
Die jong gaste wat die aand van sy verdwyning saam met hom was tydens ’n rampartytjie by Henbase Lodge, is ook almal onder verdenking geplaas.
Boonop moes die lodge-eienaars vure doodslaan, terwyl wilde stories rondgevlieg het.

Dié persverklaring is op 23 Desember 2023 deur brigadier Selvy Mohlala van die Polisie se kommunikasie afdeling uitgereik:
“Police made a shocking discovery through investigations into the sudden death of Mr Willem Kruger (29), whose lifeless body was retrieved from Vaal River in November 2022. The investigators were hard at work and are now more convinced that there was foul play.”
Ervare oud-speurders het die afgelope tyd aan die Middelburg Observer gesê hulle was geskok oor die persverklaring terwyl daar duidelik geen substansie in die bewerings was nie.
Verdwyning gebeeldsend
Huisgenoot het selfs berig: “Willem Kruger se verdwyning na ’n haneparty het die land laat gons – veral toe sy bakkie dae later in die rivier gevind word. Was dit dalk ’n tragiese ongeluk of dalk iets meer duister?” Dit was nadat sy verdwyning op die kykNET program: “Huisgenoot; ware lewensdramas” gebeeldsend is.
Hierna het lesers reageer met:
- Clarissa Strydom: “Die inspekteur het gesê hulle gaan mense arresteer en nogsteeds gebeur niks nie.”
- Christelle van Tonder: “Ongeluk? Hulle het dan gesê die bakkie se handrem was op?”
- Aletta Veldtsman: “Ek sê Willem is vermoor”.
- Lozanné Pienaar: “Daar is definitief iets duister”.
- Takkie Nortje: “Hy is vermoor”.
- Annari Brits: “Die mense wat hom vermoor het gaan nog eendag so skuldig voel dat hulle die waarheid gaan praat”.
’n Facebookblad is ook begin onder die naam: “Geregtigheid vir Willem Kruger”.
Geen terugvoer
Daar is al op 8 Desember 2025 navrae na die Suid-Afrikaanse Polisie se kommunikasie kantoor gestuur om bewerings in die persverklaring uit te klaar, sonder enige terugvoer.
Die navrae is na ’n maand hierdie week weer opgevolg, maar steeds word dit doodgeswyg.
Reguit in die rivier ingery
Afriforum se privaat vevolgingseenheid onder advokaat Gerrie Nel se leiding het Willem se dood ondersoek en bevind dat dit ’n ongeluk was en dat hy met sy bakkie reguit in die rivier ingery het vanaf die lodge.
Dit het die bewering weerlê dat die bakkie iewers gestoor en toe by die rivier ingestoot is.
Sakkie Lourens van Bosveld Misdaadondersoeke het ook bevind dat daar geen gemene spel by Willem se dood betrokke was nie.
- Janine Saayman van die Middelburg Observer se Groblersdal kantoor het onsuksesvol gepoog om die Kruger familie se kommentaar te kry.
