News

Die wet van Transvaal is ry en betaal

Machadodorp duurste tolhek in die land

Die wet van Transvaal, ry en betaal.
Maar dit is nie net wanneer jy ry wat jy betaal nie.
Soek jy goeie mediese sorg, dan betaal jy.
Soek jy beter sekuriteit, dan betaal jy. Omdat daar nie meer ’n betroubare polisiediens is nie moet jy nou vir ’n sekuriteitsmaatskappy vra om ’n ogie oor jou eiendom te hou.
Soek jy die beste opvoeding vir jou kind, dan betaal jy.
En moenie dink Jan Taks is jou genadig nie, hy vat steeds elke maand ’n groot deel van jou inkomste al gee die Staat bitter min terug.

Betaal maar

Nou is dit ook so met ons paaie.
Wil jy lekker ry? Dan betaal jy!
En jy betaal nie kleingeld nie.
Sanral het sy nuwe tariewe vir tolhekke in die land aangekondig.
Toe die Middelburg Plaza in Desember 1998 geopen het, het motoriste by die meete tolhekke van R1 tot R5 opgedok.
Hulle is lekker geflous.

Voorwaardes vir vestiging

Daar was twee voorwaardes vir die vestiging van ’ n tolhek; daar moes ’n alternatiewe roete wees en die tariewe was laag.
Tolhekke is soos ’n hinderlaag opgerig.
Tussen die dorpe Witbank (eMalahleni) en Middelburg.
Tussen die hoëveld en laeveld by Machadodorp.
Inwoners se versoek dat die Middelburg tolhek na die ooste moet skuif, het op dowe ore geval.
Selfs na protesaksies waar motoriste met kleingeld by die tolhek opgedaag het om te betaal en verkeer erg ontwrig is, het daar niks van gekom nie.

Oupad of tolhek?

Wie wil nou die oupad ry as jy die N4 kan gebruik?
Maar daarvoor moet jy vanaf 1 Maart R84 opdok.
Wanneer jy Laeveld toe ry, wie wil die Barbertonpad vat?
By Machadodorp gaan jy vanaf volgende week af R126 betaal vir ’n klas een voertuig, R350 vir klas twee, R510 klas drie en R729 vir klas vier.
Dit is die duurste tolhek in die land.
By Tugela kos dit R100 en Swartruggens R103.
Om van Pretoria na Nelspruit te reis, in ’n familie kar, gaan jou nou R261 uit die sak jaag. R51 by Diamond Hill, R84 by die Middelburg Plaza en R126 by Machadodorp.
Om vanaf Middelburg Kaapstad toe te ry, maak seker jy het R337 ekstra vir tolhekgeld.
Die Hugenote tolhek kos R54.50, Vaal R91.50, Grassmere R27.50, Verkeerdevlei R79.50 en R84 vir Middelburg.

Eerste tolhek

Die eerste tolhek in Suid-Afrika is reeds in 1866 in Durban geopen.
Die eerste moderne tolhek in die land soos ons dit vandag ken, is in 1983 tussen Crags en Stormsrivier opgerig.
’n Klompie jare gelede, toe die Olifantsrivierbrug so beskadig is dat motoriste nie die oupad kon gebruik nie, het sakeman Louis Steyn ’n plan gemaak. Hy het ’n brug oor die rivier op sy plaas gebou en tolgeld gevra om oor die rivier te kom. Later het hy eetgoed en koeldrank by die informele tolhek verkoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button