’n Avontuur van agt dae wag op Middelburg se Wingchicks.Middelburgers Thiesa Janse van Rensburg en Sanet Griesel, wat ingskryf het as die Wingchicks span, het met na sewe uur vanoggend die Cape Epic se 20km proloog gery. Dit ’n 20km trap vanaf Meerdendal Wynlandgoed.
Die eerste skof begin more, 16 Maart, in Montagu oor ’n afstand van 90km en eindig ook op die Wes-Kaapse dorpie.
Die Absa Cape Epic word op sy webblad beskryf as “’n fisies uitmergelende en geestelik veeleisende bergfiets-wedren. Dit word aangebied in die Wes-Kaap met die mooiste natuurskoon in Afrika”.
Elke jaar volg die wedren ’n ander roete wat fietsryers deur rowwe terrein, op rotsagtige klimme en tegniese afdraendes neem. Dit is ’n agtdaagse trap, wat oor die jare ’n ritueel vir bergfietsryers wêreldwyd geword het.
Die wedren lok professionele en ernstige amateurdeelnemers van regoor die wêreld wat in tweepersoonspanne deelneem.
“Dit is ’n toets van vaardigheid, fiksheid, vennootskap, toerusting en moed. Dit bied ’n fietsryervaring wat ’n maatstaf vir wêreldbergfietsry is. “Die Cape Epic is die uiteindelike toets van uithouvermoë, vaardigheid en veerkragtigheid, wat fietsryers teen Afrika se mees onvergewensgesinde terrein plaas. “Elke trap druk deelnemers tot hul fisiese en geestelike perke. Die Epic, word erken as die wêreld se mees televisie-uitgesaaide bergfietswedren.”

Die 2026 Epic gaan oor 707 kilometer van Suid-Afrikaanse natuurskoon, met 15 900 meter se klim. Van die stowwerige enkelpaadjies van Meerendal Wynlandgoed tot die wilde uitgestrektheid van Montagu, deur die ruwe passe en roetes van Greyton tot in die hartjie van Stellenbosch vir die einde.
“Elke klim is ’n toets, elke afdraende ’n beloning. Dit is ’n wedren waar legendes gemaak word. Onvoorspelbaar. Ongeskrewe. Ongetem. Dit is die 2026 Absa Cape Epic-roete.”
Sanet is natuurlik meer bekend as Suid-Afrikaanse driekamper en Thiesa as die ystervrou wat verlede jaar die solo Muna bergfietswedren oor 1200km voltooi het.
Die twee neem deel in die afdeling vir grootmeester vroue.
