Ure nadat motorfietsryer ‘Ek lewe’-lied vir vrou stuur, sterf hy in ongeluk
Die motorfietsryer wat gister in 'n ongeluk gesterf het sowat 5km buite Groblersdal op die Bronkhorstspruitpad, was 'n welbekende inwoner van Middelburg.
Net etlike ure nadat Johan van Zyl (68), die praglied, ‘Ek Lewe’ vir sy vrou gestuur het, het hy in ‘n ongeluk op die R25, sowat 5km buite Groblersdal gesterf.”
“Ek weet steeds nie presies wat gebeur het nie. Daar is soveel stories. Party sê hy het ‘n hartaanval gekry, ander sê hy het uitgeswaai vir ‘n kar. Ek sien ‘n polisieman van Groblersdal more en dan sal ek dalk meer weet,” het Johan se vrou, Joey, vangoggend gesê.
Volgens Joey het Johan, wat nie deel was van ‘n motorfietsklub nie, saam met ‘n groep motorfietsryers die ‘Snake Run’ gister gedoen.
“Om 12:28 het sy vriend, Jaco (Bogart) my gebel en gesê Johan was in ‘n ongeluk en hulle wag vir die ambulans.” Sy wou dadelik soontoe ry, maar hy het haar afgeraai om te doen. “Om 12:38 het hy my weer gebel en gesê Johan is oorlede.”

Nadat sy die dag se gebeure geskets het, het sy die besondere vertolking van die ‘Ek Lewe’-lied deur Koos Roos vir die joernalis gestuur met die boodskap by: “Hy het gisteroggend voor hy gery het, vir my hierdie gestuur…

Gister se gebeure speel nog in haar gedagtes af en sy onthou dat sy hom gevra het om nie te gaan nie, omdat sy werkswinkel, JJays, so bedrywig was.
Later het sy egter vir hom laat weet dat sy die werkswinkel se uitroep saam met die werknemers sal hanteer.
Van die motorfietsryers het vroeg saam ontbyt gaan eet, waarna hulle van Middelburg af gery het op die N11 roete waar hulle by verskeie plekke sou aandoen. Vanaf Groblersdal het hulle op die Bronkhorstspruitpad (R25) gery.
Johan se werkswinkel was die oggend bedrywig en het Joey hom nog kort voor hul vertrek op hoogte gehou van wat aan die gebeur is. Sy het hom verseker dat sy alles verder sal reël.
Sy het egter haar foon in haar voertuig vergeet en Johan en Jaco het eers by haar winkel aangedoen en die finale reëlings rakende die werkswinkel bevestig en weer gery.
Joey moes op ‘n stadium weer iets by hom uitvind en het Buksie’s (op die Loskopdampad) geskakel en gevra hy moet haar kontak as hy daar aankom. Johan het haar gebel en was haar laaste woorde aan hom: “Geniet die Rally!”
Sy het weer later vir hom ‘n boodskap getuur, maar hy het dit nooit gelees nie.
Joey het vir Jaco gevra om Johan se persoonlike artikels vir haar te bring en sy het gister sy selfoon, beursie en hul huis se sleutels gekry. “Sy foon is heeltemal stukkend, ek dink dit was voor in sy sak.”
Sy noem dat Johan verlede jaar die GSXR 1000cc Suzuki gekoop het en graag saam met die motorfietsgroepe dagrallys bygewoon het.

Volgens Joey het sy vir hulle ‘n wegbreek bespreek by Forever Resorts Loskopdam oor Paasnaweek. “Johan sou met sy motorfiets ook ‘n roetebeampte wees by die Loskop Marathon. Ek moet almal nog laat weet dat hy oorlede is,”
Die egpaar, wat nege jaar getroud was, is welbekend in Middelburg en eMalahleni. “Ons het ‘n huis in Dennesig en ook een in Witbank (eMalahleni) waar ons soms oorslaap, omdat ek woonstelle op my erf het in Witbank.”
As sy Johan moet beskryf dan onthou sy dat hy selde kwaad geword het. “Ek het kwaad geword, omdat hy nie kwaad geword het nie!” Sy rustige geaardheid het hom ook baie gewild gemaak onder almal wat hom geken het.
Omdat sy more Groblersdal toe moet ry, het sy aangedui dat sy Johan se besigheid, JJays (wat geleë is in Cowen Ntulistraat) vir die dag sal toemaak. “Ek sal egter weer Dinsdag oopmaak dat die mense kan aangaan met hul werk.”
Buiten Joey en haar dogter Jané, word Johan oorleef deur sy ouers, Chris en Louise, kinders Johan jnr en Christelle, vyf kleinkinders, susters Louise, Tollie en Amie en broer Kobus.
Daar is nog nie begin met begrafnisreëlings nie. Sodra dit beskikbaar is, sal ons dit publiseer.
- Die Observer is aanvanklik ingelig dat daar ‘n voertuig ook deel was van die ongeluk. Ons het vanoggend verneem dat net Johan met sy motorfiets in die ongeluk betrokke was. Wat presies gebeur het, is egter nog onduidelik.
