Kommer oor honde wat in haglike omstandighede bly
Blinkpan inwoners kan nie meer vaskyk in die meer as 30 honde wat in haglike omstandighede op ’n erf moet bly nie.
Klein hondjies se tonge wat oopgesny word en ook 32 brandmaer honde wat op dieselfde erf in ’n gat moet kruip vir skuiling, laat Blinkpan inwoners ten hemele skree.
Volgens inwoners is die honde uitgeteer en word hulle in swak en onhigiëniese toestande aangehou. Beeldmateriaal wys hoe die honde op die erf rondbeweeg tussen strukture, skuilings en ander gemors.
Jare van stilte
Daar is hierdie week gesê dat die situasie al vir jare ’n frustrasie is. Sommige beweer dat die toestand op die erf reeds van 2020 af ’n probleem is. Die reuk vanaf die erf is glo só erg dat omliggende huishoudings hul vensters en deure gesluit moet hou.
Verder is ontsteld gemeld dat die honde gereeld vir lang tye tjank.
Die honde vind skuiling in ’n gevaarlike struktuur waarop hulle moet spring om in ’n gat te kruip vir beskerming teen die die wind en weer.
‘Wurms’ verwyder
Daar is ook beweer dat babahondjies se tonge in die agter-erf deur die eienaar gesny word, om ’n sogenaamde ‘wurm’” onder die tong te verwyder.
Senior inspekteur Petro Oberholtzer, bestuurder Middelburg Dierebeskermingsvereniging, het verduidelik dat hierdie ‘wurms’ nie werklike wurms is nie. “Die term verwys na ’n klein stukkie weefsel onder ’n hond se tong wat deur gemeenskappe verkeerdelik as ’n wurm beskryf word.”
Om ’n hond se tong te sny om dit te verwyder, kan tot ernstige infeksie, komplikasies en in baie gevalle daartoe lei dat die dier vrek.
Klagtes by kantoor
Die klagtes is intussen ook by DA-raadslid Stefan Smith aangemeld wat bevestig het dat daar wel vorige klagtes oor die erf is.
• Volgens Suid-Afrikaanse dierwelstandswetgewing is dit onwettig om diere in toestande aan te hou wat onnodige lyding veroorsaak.




