Die enigste oorblywende chick het die eindpunt gehaal
Hartseer vir Thiesa maar gesondheid is belangriker.
Die enigste oorblywende deelnemer van Middelburg se Wingchicks span, Sanet Griesel, het vanmiddag die Cape Epic bergfietswedren voltooi.
Sy het die laaste skof wat op Stellenbosch begin en geëindig het en oor 58km gestrek het, in 4:41:28 voltooi.
Daar was natuurlik ’n tikkie hartseer,met haar spanmaat, Thiesa Janse van Rensburg, wat haar aan die moordende bergfietswedren moes onttrek, as gevolg van siekte.
“My hart is stukkend, maar my gesondheid is nou belangriker. ’n Moeilike beluit om te neem, maar ek het al twee Epic wedrenne voltooi en om my liggaam op die spel te plaas, net om nommer drie te voltooi, is nie die moeite werd nie.”
Sy het vroeër die week al begin hoes en haar longe het haar ook opdraende gegee.
Die mans elite wenners was verrassend die Suid-Afrikaners Toyota Specialized Imbuko se Matthew Beers en Tristan Nortje met Willier-Vittoria en Luca Braidot tweede en Luca Schwarzbauer en Samuel Gaze derde.
