Nee kyk, die meeste ouens sou dood gewees het
Kappie Kapp wonderbaarlik uit hospitaal ontslaan na boot oor hom ry.
Kappie is op pad huis toe.
Die gewilde oud Middelburg Rugbyklub agterspeler en afrigter, Frikkie (Kappie) Kapp (60), wat deur ’n boot omgery is, word vanmiddag ontslaan.
Kyk, daar is stories oor wilde wragtag ouens in Suid-Afrika. Voeg maar die naam Kapp ook by.
Dit is daai ouens wat sy broek met ’n geelslang vasmaak en sy tande met doringdraad borsel.
Die Kapps van Koolvelde was bekend as monsters op die rugbyveld wat ouens tot in icu geduik het.
Ja, regtig! Was een aand by ’n Secunda wedstryd toe die einste Kappie Kapp sy vleuel teenstander tot in die Life Midmed Hospitaal se intensiewe sorgeenheid geduik het.
Dat hy na vier dae uit die Netcare St Augustine Hospitaal in Durban ontslaan word, nadat ’n hengelboot oor hom gery het, is nie net ’n wonderwerk nie, maar bewys hoe gehard die Kapps is.
Die mooiste van die storie is dat die oud Middelburg en Suidoos rugby kaptein, Piet Craven, hom in die hospitaal besooek het en vanmiddag lughawe toe vat, sodat hy kan terugvlieg na Middelburg.
Wannneer jy die paniek hoor, nadat die boot oor hom gery het en deelnemers aan die Mynmanne Hengelkompetisie by Sodwana hom moes uitgrawe, is dit nog meer merkwaardig dat hy so vinnig herstel het.
Sy mond, neus, ore, oë en elke ander plek waar daar sand kon in, het gemaak dat hy bloed en sand uitspoeg, toe hy uiteindelik onder die boot uitgetrek is.
Die organiseerder van die jaarlikse Mynmanne Hengelkompetisie, Thinus Barnard, het gesê hulle kan nie nou kommentaar lewer nie, omdat daar gewag word vir die uitslag van ’n ondersoek.
Die Mynmanne het Maandag begin hengel, alhoewel die meeste hengelaars alreeds Saterdag by Sodwana aangekom het.
Die kompetisie het vanmiddag geëindig.
