OPVOLG: Ondersoek nadat hengelboot oor oud rugbyspeler ry
Somber atmosfeer by Mynmanne Hengelkompetisie omdat "almal lief is vir Kappie"
Die bootongeluk waarin die rugbyspeler, Frikkie (Kappie) Kapp (60) ernstig beseer is, word ondersoek.
Die organiseerder van die jaarlikse Mynmanne Hengelkompetisie, Thinus Barnard, het gesê hulle kan nie nou kommentaar lewer nie, omdat daar gewag word vir die uitslag van ’n ondersoek, nadat een van die deelnemende bote oor Kapp gery het.
“Bedroefdheid” onder die deelnemers
“Ons is besig met die ondersoek en ondersteun die familie,” het Barnard gesê.
Die ondersoek word in samewerking met Parkeraad gedoen.
Volgens Barnard is daar ’n “bedroefdheid” onder die deelnemers sedert die ongeluk Maandag.
“Almal is lief vir Kappie en hengel is moeilik.”
Die Mynmanne het Maandag begin hengel, alhoewel die meeste alreeds Saterdag by Sodwana aangekom het.
Die kompetisie eindig vandag.

Meer as dertig mans moes die boot van sowat een ton oplig, om Kappie te bevry. Hy word tans in die intensiewe sorgeenheid van die Netcare St Augustine Hospitaal in Durban behandel.
Hy en sy vrou Judy-may is ook die eienaars van Judsies Geskenkwinkel in die Midwater Sentrum.
Dit was sy 39ste jaar as “meester van die strand” by die groot hengelkompetisie, wat sedert 1977 aangebied word.
Kappie het al in 1987 vir die Mynmanne as ’n trekkerdrywer begin werk.
“Toe is die boot bo-oor my”
Dit is deesdae sy taak om die bote, na ’n dag se hengel, veilig op die strand te lanseer. Hy het uit sy hospitaalbed gesê, hy het met sy vlag op die strand gestaan, om te kyk dat die laaste boot van die dag veilig uitkom.
“Ek het gesien die boot kom in my rigting en het probeer om weg te kom, maar het in ’n gat getrap, gestruikel, my balans verloor en toe is die boot bo-oor my.”
’n Helikopter is ontbied
Omdat dit vier ure sou vat om hom by die hospitaal in Durban te kry, is besluit om ’n helikopter te ontbied.
Hy het drie ribbes en sy sleutelbeen gebreek en ’n stuk van sy scapula (skouerblad) waarvoor hy moontlik geopereer sal moet word.
Die velle op sy sitvlak is ook deur die impak afgeruk.
Gebede gevra
Behalwe dat hy die meester van die strand was, is Kappie ook ’n erelid en komiteelid van die Mynmanne.
Intussen stroom ondersteuning vir die gewilde oud agterspeler en afrigter van Middelburg Rugbyklub van oral in.
Die Suidoos-Transvaal losskakel, Gert la Grange, het op die Suidoos Christelike groep gevra vir gebede.
Die oud Suidoos-Transvaal kaptein en oud Middelburger, Piet Craven, het uit Durban geskakel om na Kapp se welstand te verneem en het onderneem om hom in die hospitaal te besoek.
Ander rugbyspelers het in groot getalle na sy welstand verneem en boodskappe van ondersteuning aangestuur.
Mynmanne Mariene Vereniging
Die Mynmanne Mariene Vereniging het gegroei van ’n klein groepie hengelaars tot een van die mees erkende diepsee-visvanggemeenskappe langs die Suid-Afrikaanse kuslyn. Wat begin het as ’n informele byeenkoms van vriende met ’n gedeelde liefde vir die see, het geleidelik ontwikkel tot ’n jaarlikse geleentheid wat sportvissers, gesinne en oseaan-entoesiaste van regoor die land lok. Die vereniging is gestig om etiese hengel te bevorder, gemeenskapsbande te versterk en die unieke mariene omgewing van Sodwanabaai te vier. Oor die jare het die geleentheid uitgebrei namate meer spanne, borge en vrywilligers deel van die tradisie geword het.
Lees ook:
Boot ry oor gewilde rugbyspeler by Mynmanne hengelkompetisie
