Vermeende koperkabeldiewe vas in Middelburg
Dagpatrollie en polisie spoor gesteelde kabel op ná wenk van informant.
Twee mans is vroeg Saterdagoggend in hegtenis geneem nadat ’n groot gesteelde kabel in Middelburg opgespoor is.
Volgens die plaaslike veiligheidsgroep Dagpatrollie het hulle op 4 April omstreeks 02:10 inligting van ’n informant ontvang oor ’n groot kabel wat vermoedelik gesny en gesteel is.
Lede van die groep het onmiddellik op die inligting gereageer en Middelburg Polisie gekontak vir bystand.
Teen ongeveer 02:26 is dié kabel opgespoor.
Volgens Dagpatrollie was die kabel meer as 20 meter lank met ’n deursnee van sowat 50 tot 80 mm.

Die polisie het spoedig gereageer en was volgens die groep binne ongeveer sewe minute op die toneel.
Die kabel is as bewysstuk gekonfiskeer, waarna twee verdagtes met die diefstal verbind en op die toneel gearresteer is.
Dagpatrollie het die dorp se polisie bedank vir hul vinnige reaksie en samewerking tydens die operasie.
Die ondersoek duur voort.
