‘Bewustelose’ vrou in pad steel Samaritaan se Micra saam makker
Vrou spring uit dood uit op tydens kardiefstal langs Klein Olifants.
’n Plaaslike man waarsku dat sy voertuig amper gesteel is nadat hy vir ’n bewustelose meisie in die pad naby die gevangenis gestop het. ’n Makker het toe skielik met sy voertuig weg gery.
Bertus Stone sê hy het verlede Sondag gou na die Sasol-vulstasie gery, toe hy op pad terug huiswaarts ’n meisie in die pad sien lê het, langs die Klein-Olifantsrivier naby die gevangenis. Hy het uitgeklim en na die meisie gestap om te sien of hy kan help.
Dis toe dat hy ’n man uit die bosse gewaar. Die makker het langs die pad na sy Nissan Micra gehardloop.
Terselfdertyd het die meisie ook ongeaard, opgespring en weggehardloop.
Stone het agter hulle aan gehardloop, maar weens sy ouderdom kon hy hulle nie inhaal nie.
Die man het aan die oorkantste oewer van die laagwaterbruggie ’n lelike grondpad langs die rivier tot waar dit by die N11 aansluit, geneem. Die grondpad is vol slaggate.
Op die grondpad het die man met die Micra vasgeval en laat spaander. Stone sê hy het toe gesien dat die man iewers langs die pad by twee ander mense aangesluit het.
Hy het tot by die voertuig gestap waar dit in die gat vasgeval het, en kon gelukkig self die Micra’tjie uit die gat kry. Daarna is hy na sy huis by Riverbend-meenthuise.
Stone sê dat sy foon en kontant wat hy by hom in die voertuig gehad het, gesteel is. “Inwoners moet bedag wees op die skelms,” waarsku Stone.
