Giana Viljoen: Van Middies se velde na vroue eindstryd
SA Rugby president Mark Alexander loof drie se opgang.
In rugby terme sou sy seker as skrumskakel diens gedoen het in ’n rugbyspan.
Kort van postuur, maar met die gesag van ’n veldmaarskalk wanneer sy ’n fluitjie in haar mond sit.
Giana Viljoen het van die skoolvelde op Middelburg gevorder tot die superliga vroue eindstryd verlede naweek op Loftus Versfeld tussen die Boland Dames en Bulls Daisies.
Die oud Puma skeidsregtersvereniging voorsitter, Steve Brits, het Viljoen se talente besing.
“Ek moes haar beoordeel tydens ’n wedstryd by Hoërskool Middelburg. Sy het so goed geblaas dat ek rustyd al besluit het sy gaan die hoogste sport bereik. Giana is ’n natural“.
Sy was ook die eerste vroue skeidsregter wat ’n Carltonbeker eerstespan wedstryd hanteer het. Dit was die kragmeting tussen Tukkies en Centurion wat Centurion 63-33 gewen het.
Nadat sy lid was van die Mpumalanga Skeidsregtervereniging, blaas sy deesdae in die kleure van die Blou Bulle Skeidsregtersvereniging.
Aimee Barrett-Theron sal intussen die tweede vrou word om 50 toetse te hanteer (na Engeland se Sara Cox) met haar aanstelling by die Vroue Sesnasies saam met Zoe Naude, terwyl Giana in die eerste o/21 Vroue Sesnasies-reeks sal optree.
“Zoe en Giana is nou waar Aimee baie jare gelede was en hul aanstellings is bloot ’n beloning vir die harde werk wat hulle ingesit het. Ons is baie trots op hulle en wens hulle alle sterkte toe met die wedstryde wat voorlê,” het SA rugby president, Mark Alexander, op SA Rugby se webblad gesê.
Barrett-Theron sal slegs die vierde Suid-Afrikaanse wedstrydbeampte word wat 50 toetse blaas – na Jonathan Kaplan, Craig Joubert en Jaco Peyper – met die openingswedstryd van die Vroue-Sesnasies op 11 April, wanneer Frankryk Italië in Grenoble ontvang.
Sy sal dan na Kansas City in die VSA reis vir die Pacific Four-reeks-botsing tussen Kanada en Nieu-Seeland op 17 April, en Barrett-Theron sal ook die Sesnasies-toets tussen Skotland en Frankryk in Edinburg op 9 Mei hanteer.
Viljoen, wat deel is van World Rugby se Talent ID-program, is een van sewe wedstrydbeamptes op die paneel vir die nege wedstryde in die eerste o.21-vroue-Sesnasies, wat van 18 April tot 10 Mei duur.
Haar aanstellings is vir die wedstryde op 2 Mei. tussen Frankryk en Skotland in Tarbes, en 10 Mei, wanneer Wallis Ierland in Caerphilly ontvang. Tarbes het jare gelede op Witbank teen Suidoos-Transvaal gespeel in wat beskou word as die vuilste wedstryd ooit in die provinsie.
