Vandat die gewese Puma hulpafrigter, MJ Mentz, die leisels oorgevat het by Hoërskool Nelspruit se rugby is daar nuwe lewe in die Laeveld.
Nou kom die Wit Renosters Saterdag in sy grootste toets van die jaar te staan, wanneer hy Waterkloof pak.
Die skool speel uit vir posisie een tot vier by HTS Middelburg se A-veld.
Waterkloof het die Rooi Bulle en Piet Retief verniel op pad na die halfeind.

Die kragmeting skop om 13:40 af.
HTS Middelburg se dansers tree om 15:20 op met die skool se eerstes wat om 15:30 teen EG Jansen van Boksburg uitspeel vir die vyfde tot agtste plek.
Die NWU Pukke Skolereeks begin reeds vandag (10 April) met hokkie uitspele op Hoërskool Middelburg en HTS Middelburg se astro bane.
Wedstryde word Saterdag by HTS Middelburg voortgesit.
Duisende toeskouers word op Middelburg verwag, met die A- B- en C-velde wat vir die rugby uitspele gebruik gaan word.
Alle ouderdomspanne tot C-spanne speel uit.
Skole wat in aksie is, is HTS Middelburg, EG Jansen, Waterkloof, Nelspruit, Kempton Park en Piet Retief.
