Pumas trap Bulldogs se tjank af
Onthou 25 April 2026 - dan gaan Pumas in die Groot Gat val of bo uitkom.
Die Puma rugbyspan het Saterdag in Mdantsane byna ’n honderdtal teen die Grens Bulldogs aangeteken in die SA Beker. Die Laevelders het met 95-5 gewen.
In die proses het hulle 14 drieë gedruk.
Drieë: Jaycee Nel (4), JJ Scheepers (2), Qamani Kota (2), Tino Swanepoel (2). Sango Xamlashe, De Wet Marais, Dalvon Blood en Etienne Janeke het elkeen een drie gedruk. Clinton Swart en Nevaldo Fleurs slaag elkeen met ses doelskoppe.
Die SWD Arende het geswoeg om die Valke in Kempton Park met 40-43 te klop.
Die Luiperds het met 21-43 in Potch teen die Oostelike Provinsie verloor.
Die Griffons het met 10-57 teen sy buurman, die Toyota Cheetahs, vasgeval.
Griekwas het sy moeilikste wegwedstryd teen Boland in Wellington met 14-24 gewen.
Die manne van Kimberley is steeds voor op die punteleer met 25 punte, gevolg deur die Pumas met 22, SWD Arende ook 22, Cheetahs 18, Boland 15, Griffons 10, Valke 9, Oostelike Provinsie 7, Luiperds 7 en Grens 0.
Vrydagaand om 19:00 speel die Pumas tuis teen die Luiperds, Griffons teen die Valke in Welkom om 15:00, SWD Arende teen die Cheetahs in George om 15:00, Boland tuis teen die Bulldogs om 15:00, Oostelike Provinsie tuis om 17:00 teen Griekwas.
Die wedstryd wat met rooi omkring kan word is tussen Griekwas en die Pumas op 25 April in Kimberley.
Die kragmeting sal waarskynlik bepaal watter span eindig bo aan die punteleer en het tuisveld voordeel.
