NewsSensitive Content

Kaalvoet vroue smous glo seks by huis

Nes van prostitusie en misdaad in swart boek ontbloot.

Drie haweloses wat vir R20 ’n dag op ’n vloer kon slaap by Proteastraat 16, het voorvalle van prostitusie, dwelmgebruik en ander misdade bevestig.

Die Middelburg Observer het alles wat in die hool afspeel, verlede week op sy voorblad onthul.

Die voorbladberig oor die ‘Hel-hool’ in Proteastraat 16. Foto: Skermskoot van Middelburg Observer voorblad.

Etienne Ehlers (55), Jaco Coetzee (58) en Jan Groenewald (51), het bevestig wat in die swart boek staan, sonder dat hulle ooit die boek onder oë gehad het.
Hulle bedel by verkeersligte en het die afgelope twee maande by Proteastraat gebly.

Volgens hulle het Jonathan Swart vir hulle vertel dat Steve Hart die eienaar van die huis is en dat hulle daar kan bly vir R20 per persoon per dag.

Baie dinge sien gebeur

“Ons het baie dinge sien gebeur in die huis. Hulle het ’n h…huis bedryf en byna daagliks met nuwe selfone daar aangekom. Vir ons het hulle vertel dat hul ander selfone gesteel is.”

Hart het voorheen vertel dat hy dwelmverslaafdes wil help.
Een van die drie het gesê hy het duidelik gesien hoe Hart self ‘met ’n glaspypie’ dwelms gebruik.

Volgens Swart is dit nie dwelms nie, maar ‘MSN’-poeier (wat kragbouers gebruik) wat hulle rook.

Wheelie Bins op perseel

Buiten die dwelmgebruik op die perseel, het hulle ook gesien hoe rol-asblikke agter op die perseel staan.
“Ek het een oggend wakker geword, toe staan daar seker nege wheelie bins. ’n Bakkie het dit later kom oplaai.”

Hulle het ook gesien dat daar ’n kragopwekker was, wat waarskynlik later verkoop is.
“Langs die hek was daar ’n gat waar hulle hekmotors in gepak en dan vinnig weer vir iemand gegee het, wat dit kom oplaai het. As die polisie of ander noodgroepe daar gekom het, was dit reeds weg. Die gat is mooi bedek.”

Sê Hart was die ‘pimp’

Volgens die mans was Hart die ‘pimp’ vir ene Marisca Boshoff om prostitusie te bedryf, want baie mense het in en uit beweeg by die perseel om vir Marisca te gaan ‘kuier’ en Hart het die geld ontvang.

Sharkie het klaarbliklik Hart se kop oopgeslaan

Hart het die vorige week die Observer laat weet dat hy met ’n panga oor die kop geslaan is en dat dit een van die rowers was wat hom in Januarie aangerand het.
Volgens die mans het Hart, ‘met Sharkie se meisie gekuier’ en het hy hom met ’n stuk palissade oor die kop geslaan, wat Steve en Jonathan skerpgemaak het. Dit was nie ’n panga nie, Sharkie het die stuk palissade daar in die erf opgetel.”

Steve Hart se kop is oopgeslaan. Foto: Verskaf.

Meer as een prostituut op perseel

Volgens die mans is dit nie net Marisca wat prostitusie bedryf het by Protestraat 16 nie.
“Daar was twee ander. Ons het hulle die kaalvoethoere genoem, want hulle het nooit skoene aangehad nie. Marisca het ook gespog met wat sy doen. Sy het soms in die kamer ingekom en met oop bene, sonder onderklere, voor my kom sit.”

Hulle beweer dat Swart enige tipe dwelm gebruik wat beskikbaar is.

Wat het van R3 000 skenkings geword?

Iemand het glo R3 000 per maand vir Hart gegee om die haweloses op die perseel te help.
“Ons het nooit ’n sent gesien nie, nie kos gekry nie en moes boonop in die tuin werk.”

Hulle beweer dat daar ’n onwettige kragkonneksie was sodat Hart en Boshoff krag het. Daar was ook water, maar vandat Hart weg is, is dit toegedraai.

Prokureursbrief sê Hart moet uit

In die swart boek was daar ’n los prokureursbrief wat Hart gemaan het om die perseel voor einde Maart te verlaat en hy is nie meer daar nie.

“Nou is daar ’n jong man en vrou vir wie ons die R20 per dag moet betaal. Ons moet nou ander dwelmverslaafdes betaal. Ek het een keer voorgestel dat ek hulle betaal met kruideniersware wat ek gekry het, maar hulle het nie belanggestel nie, hulle soek die geld vir die dwelms. Squatters (plakkers) moet nou ander squatters betaal vir verblyf!”

Hart het nog nie geantwoord nie

Hart het onderneem dat hy kommentaar sal lewer, maar het nog nie.
“Daar is altyd bewerings teen my. Daar is liggame begrawe op die perseel, dis seker een van die bewerings teen my.”

Ontken prostitusie by Proteastraat, maar wel by Impalastraat

Boshoff het ontken dat sy prostitusie by die Proteastraathuis bedryf het, maar wel erken dat sy voorheen prostitusie bedryf het vanaf ’n huis in Impalastraat.

Marisca Boshoff. Foto: Daleen Naude.

Vlug nie, wil veilig wees

Swart het verskoning gemaak vir Hart omdat hy nie self opgedaag het vir kommentaar nie. Volgens hom is Hart Benoni toe om vir hulle ’n plek daar te probeer kry. “Ons vlug nie, ons wil net veilig wees noudat daar so baie goed gesê word.”

Ontken dat weer dwelms gebruik

Swart het ontken dat hy weer voltyds dwelms gebruik. Volgens hom het hy ’n paar weke gelede teruggeval nadat hy lank skoon was en sê hy het een keer dwelms gebruik, maar nog nie weer nie.

• Twee ander vroue wat na bewering prostitusie bedryf het op die perseel, se name is ook genoem, maar hulle kon nog nie opgespoor word vir kommentaar nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button