Dit was nou Vlok én lekker
Vlok en Ben vier fees saam met Tukkies nadat hulle Varsitybeker wen.
Die oud HTS Middelburg en Puma Cravenweek senter, Christiaan Vlok, het sy Varsitybeker avontuur gisteraand op ’n hoogtepunt afgesluit.
Vlok het die gesogte beker saam met sy Tukkies spanmaats omhoog gehou, na ’n oorwinning van 31-3 (rustyd 10-3) oor sy oud spanmaats, NWU Arende.
Na sy suksesvolle jaar in die Rooi Bulle trui is hy deur die Potchefstromers opgeraap, waar hy skitterenede rugby gespeel het.
Hy het verlede jaar na Pretoria verhuis en onmiddellik ’n verskil gemaak.
Alhoewel hy gisteraand ’n geel kaart gekry het, omdat hy ’n bal afgeklap het, was hy en Kobus Janse van Rensburg waarskynlik die beste senterpaar in die kompetisie.
Die vraag is natuurlik; vanwaar hiervandaan met sy rugbyloopbaan?
En al het hy gisteraand nie gespeel nie, as gevolg van ’n skouerbesering, was die oud Hoërskool Middelburg losvoorspeler, Ben Jansen van Vuuren, deel van die feesvierings.
Hy was van die eerste wedstryd af deel van die groep, maar is drie weke gelede beseer.
Tydens die halfeind wedstryd teen die Universiteit Johannesburg was dit duidelik dat die skouer hom nog pla en hy het die eindstryd misgeloop.
Dit was Vlok se laaste Varsitybeker wedstryd, omdat hy volgende jaar te oud is vir studente rugby, maar Jansen van Vuuren kan een van Tuks se steunpilare wees.
Die NWU Arende het hulle eindstryd verlede week teen Maties gespeel.
Die span kon nie die gehalte spel herhaal, wat hy teen die Stellenboschers opgedis het nie.
Tukkies, met ’n briljante Dillon Smith aan die voorpunt, het die wedstryd binne die eerste vyf minute gewen.
Die NWU Arende het kamp opgeslaan op die Tuks doellyn, maar is deur rotsvaste verdediging verhinder om punte aan te teken.
Dit sou die patroon van die wedstryd word.
Die wyse waarop die Pretorianers verdedig het, was formidabel.
In die Jakarandastad word daar steeds fees gevier, want behalwe vir die Varsitybeker, staan die Gold Cup wat Naka Bulle gewen het ook in Pretoria.
Nou word daar gewag vir die Verenigde Rugby Kampioenskap trofee wat die Blou Bulle moet wen.
Andile Myeni (FNB UP-Tuks) was op vleuel kookwater en is aangewys as speler van die wedstryd.
FNB UP-Tuks: Buhle Mpaka, Jean Fourie, Jayd Austin, David Engongo, Duncan Blignaut, Abel Pretorius, Oelof De Meyer, Dillon Smith (k), Akha Mjawule, Divan Du Toit, Munashe Dukuswa, Christiaan Vlok, Kobus Janse van Rensburg, Andile Myeni, Hopewell Ntshangase.
FNB NWU Arende: Alethwa Buthelezi, Jordan Mcloughlin, Jason Oosthuizen, Stephan Krugel ©, Raniel Turner, Ricardo Fourie, Guhan du Bois, Sean Roulston, Zack Serfontein, MJ Mostert, Logan Janeke, Leejay Petersen, Matthew Fortuin, Luyolo Doyi, Luan van der Walt.
