As gholf tog maar net drie rondtes was!
Maar dit is nie.
Aldrich Potgieter het drie rondtes skitterende gholf gespeel, by die RBC Heritage-toernooi en toe ’n laaste rondte wat hom verhinder het om onder die voorste spelers klaar te maak.
Hy het drie rondtes van 67 op sy telkaart ingevul en geëindig met ’n 75.
Matt Fitzpatrick het die PGA Toernooi gewen, na ’n uitspeel rondte teen Scottie Scheffler. Albei het op -18 geëindig.
Potgieter het sy eerste dag vyf voëltjies aangeteken en een brouhou, die tweede dag vyf voëltjies en een brouhou, weer vyf voëltjies en een brouhou op die derde dag.
Op die laaste dag het hy nie een voëltjie gesink nie, maar vier brouhoue om op -8 te eindig.
Die jong professionele gholfspeler, wat voorheen ’n leerling aan Laerskool Middelburg was, het ’n leefstyl verandering ondergaan en 13 kilogram afgeskud. Na die week se gholf kry mens die indruk dit is net ’n kwessie van tyd voordat hy weer ’n toernooi wen.
