News

Kultuur Derby – Nuwe blad in Middelburg geskiedenisboek!

Die eerste Kultuur Derby tussen HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg het op Maandag, 4 Mei, in MHS se saal plaasgevind.

Die geskiedkundige geleentheid het ’n aand van talent, humor, spanning en kreatiwiteit opgelewer.

Deelnemers van beide skole het die gehoor met debat, spelling en toneel vermaak, terwyl sang deel van die toneelafdeling gevorm het.

HTS Middelburg het geskiedenis gemaak deur die eerste Kultuur Derby te wen, maar beide skole het met trots hul talent en kultuur-gees op die verhoog en in die gehoor getoon.

Albei skole het eers daardie Maandagmiddag om 13:30 die temas vir die debat en toneel ontvang.

Met slegs ’n paar uur voor die wegspring van die heel eerste Kultuur-derby, moes die spanne inderhaas improviseer en hul kreatiwiteit tot die uiterste beproef om hul onderskeie temas op die verhoog lewe te gee.

’n Vurige debat oor die pad na sukses

Die debatvraag het vir vuurwerke gesorg met vlymskerp stellings en uitdagende vrae. Spanne moes kopkrap oor die tema: “Wat is die belangrikste vir die ontwikkeling van tieners: Mislukking of sukses?”

HTS Middelburg het met oortuiging aangevoer dat mislukking juis die bousteen vir groei is.

MHS het egter dié stelling suksesvol teengestaan en die gehoor beïndruk met hul vinnige repliek en vlymskerp argumente.

Spelfees het spanning geskep

Die saal se atmosfeer was gevul met opwinding tydens die spelkompetisie. Dit was merkwaardig hoe die gehoor, deelnemers en beoordelaars saam die intensiteit van die twee ‘spel-prinsesse’ beleef het.

Uiteindelik was dit die korrekte skryfwyse van Graaff Reinet wat die slim Graad 9-leerder van MHS, Mieke Knoesen, uitgevang het.

Ten spyte daarvan, was dit beslis ’n afdeling wat die kompetisie kwik laat styg het!

Toneel van fenomenale talent

Skole se toneelspel kan net met dié terme beskryf word: kreatiwiteit en fenomenale talent!

Die toneelafdeling het die gehoor op ’n emosionele reis geneem. HTS se produksie, “Nie verlore nie, maar op pad na myself”, was ’n visuele fees van drama, sang en danspassies.

Aan die ander kant het MHS se kultuurkaptein die kollig behoorlik gesteel met sy uitsonderlike sangtalent. Dié kultuurgroep het gewys dat hulle geen ‘Plan B’ nodig het nie, maar die plan is, met ’n vertoning vol musiek, skreeusnaakse grappe en danse wat die saal met energie gevul het.

HTS Middelburg kán kultuur

HTS Middelburg is uiteindelik as wenners van die eerste Kultuur Derby aangewys.

Dié nuwe tradisie het sonder twyfel Middelburg se harte gewen.

Beide skole het bewys dat die vertoning van kultuur sowaar deel van die Derby-gees hoort! Dit was dalk die eerste amptelike Kultuur Derby tussen hierdie twee skole, maar as ’n mens na die passie en gehalte van die aand kyk, is dit vir seker nie die laaste een nie.

HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg Derby was die jaar in ’n kaliber van sy eie.

KYK | https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7639336246522678529?is_from_webapp=1&sender_device=pc

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button