LifestyleLocal LifestyleNews

Na 60 jaar is Trudie steeds Johan se diamant

Geduld en geloof lê volgens Middelburg se Johan en Trudie Appelgryn aan die hart van 60 jaar se huwelik wat hul vanjaar vier.

Toe dié Middelburg inwoners, Johan en Trudie Appelgryn op 2 Julie 1966 voor die kansel gestaan het, sou hulle waarskynlik nie kon droom dat hulle ses dekades later steeds hul huwelik sou vier nie.

Vanjaar het die egpaar hul 60ste huweliksherdenking gevier – ’n diamantbruilof wat hulle saam met hul vier kinders, agt kleinkinders en sewe agterkleinkinders kon deel.

Die Appelgryns het sowat 15 jaar gelede Middelburg hul tuiste gemaak nadat hulle albei afgetree het en besluit het om nader aan hul kinders te verhuis.

Die twee het mekaar in Carletonville ontmoet, waar hulle op 2 Julie 1966 in die huwelik getree het. Johan het jare lank as mynwerker gewerk, terwyl Trudie by OK Bazaar gewerk het.

Johan en Trudie Appelgryn deftig getooi vir hul troudag in 1966. Foto: Verskaf

Goue reël van geduld

Vir Trudie is daar egter geen ingewikkelde geheim agter ses dekades se huwelik nie.

“Geduld – dit is die goue reël,” sê sy laggend.

Volgens haar beleef elke huwelik goeie én moeilike tye. “Elke huwelik het sy sonskyndae en sy donker dae, maar met God se genade en liefde kon ons nog altyd saam die lewe aanpak.”

Net ’n man en ’n vrou, verlief

Johan en Trudie is die trotse ouers van vier kinders: hul seuns Johan en Peet Appelgryn, en dogters Gerda Pretorius en Zelda Hartman.

Hul familie het oor die jare uitgebrei tot agt kleinkinders en sewe agterkleinkinders.

Wat in 1966 met net twee mense begin het, het oor ses dekades gegroei tot ’n familie van 21 – ’n bewys van ’n liefde wat deur die jare en deur goeie én moeilike tye staande gebly het.

Dekades en diamante

Die besondere mylpaal is met ’n groot familiebyeenkoms gevier, waar hul familie saam met hulle hul 60 jaar van huwelik gevier het.

Toe Johan gevra word waaraan hy hul ses dekades saam toeskryf, was sy antwoord kort en eenvoudig:

“Alle eer aan God.”

Die Appelgryns se liefde is ná 60 jaar steeds méér werd as diamante.

Johan en Trudie Appelgryn op hul troue in 1966. Foto: Verskaf

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button