Die een was ’n Rooibul, die ander een ’n Middie … en toe wen hulle vroeër vanjaar saam-saam die Varsitybeker.

Christiaan Vlok was op senter een van HTS Middelburg se rugbyhelde, terwyl Ben Jansen van Vuuren op agsteman vir Hoërskool Middelburg uitgeblink het.
Aartsvyande op skool, maar bekerwenners vir Tukkies aan die begin van die jaar. ’n Wenresep!
Toy Engelbrecht was nog onlangs by HTS Middelburg ’n kookwaterflank en speel nou vir die Leeus se o. 20-span. Saam met hom in die Leeutrui is Hoërskool Middelburg se skitterende losskakel van twee jaar gelede, Matthew Abbey.

Die twee het ook saam vir die Pumas se Cravenweek-span gespeel.
En ja, reg geraai – hulle het nog nie ’n wedstryd in die nasionale o. 20-reeks verloor nie.

Die jong Leeuspan was veral teen die Vrystaat Cheetahs in ’n verwoede bui en het met 55-33 gewen.
Die Leeus is bo-aan die punteleer met 10 punte danksy ’n beter punteverskil. Die Bulle en Stormers is ook op 10 punte, terwyl die Haaie en Luiperds elk op twee punte is en die Cheetahs een punt het.
Eerskomende naweek speel die Bulle tuis teen die Stormers, terwyl die Haaie en Cheetahs kragte meet. Die Leeus pak die Luiperds tuis.
