Dolf kry ’n verbronsde hoed, Tommy ’n unieke klok
Skool vereer verskilmaker tydens inwyding van nuwe krieketspreiligte.
Dolf Rossouw was ’n legende. ’n Boer, ’n geliefde rugby ondersteuner en verskilmaker by Hoërskool Middelburg. Een jaar met die skool se revue is daar gesukkel om ’n stel op die verhoog te bou.
Skoolhoof Ockert Nel was later moedeloos, want die werk wou net nie op dreef kom nie en die revue was om die draai.
Toe bel hy die man wat wonderwerke kon verrig, Dolf Rossouw. Dolf en sy span werkers het in ’n japtrap die stel gebou en siedaar, die skool kon revue hou. Saterdae het hy met sy groot hoed luidkeels Middies se rugbyspanne aangemoedig. Ter ere van sy werk is daardie einste hoed verbrons en aan Dolf oorhandig.

Dieselfde hoed wat ook op sy kis geplaas is met sy ter aarde bestelling in die familiebegraafplaas.
Met die Cravenweek verlede jaar was die land verstom met die grasgroen Hoërskool Middelburg rugbyveld hier in midde in die winter. Dit het tot op nasionale televisie aandag gekry.
Een van die dryfvere agter die groen veld was Tommy Strydom, oudleerling van Hoërskool Middelburg, lid van die beheerliggaam en soos Dolf ’n verskilmaker. Skole het sulke mense nodig, dorpe is ’n beter plek weens sulke verskilmakers.

Tydens Woensdagaand se inwyding van Hoërskool Middelburg se nuwe spreiligte is Tommy vereer met ’n unieke klok met sy naam op en ’n teksvers uit Johannes 8:12 wat op die klok graveer is. “John 8:12 says: Whoever follows me will never walk in darkness, but will have the light of life.”
Hy was andermaal ’n groot dryfveer agter die spreiligteprojek. Voordat Tommy die eerste keer die klok gelui het, het Jaquese Else gesê “dit moet groter wees as krieket”. Die klok gaan by die krieketveld gelui word tydens spesiale mylpale.
